2 maande gelede
’n Goeie begin
lunathi
VET PRET! Lunathi Nxele kuier te lekker agter die doellyn.  ~ Varsity Cup

DIE Kaapse Skiereiland-Universiteit vir Tegnologie (CPUT) sal gewis sy dissipline wil verbeter wanneer hy vanaand in ’n Varsity Shield-wedstryd teen die Universiteit Rhodes te staan kom.

Die Tekkies, soos CPUT se span bekendstaan, het Maandag sy openingstryd in die toernooi met 36-20 teen Fort Hare gewen.

Dít ten spyte van die feit dat drie van sy spelers met kaarte van die veld gestuur is. Jurick Lewis het in die 28ste minuut ’n rooikaart gekry vir ’n gevaarlike hoogvat. Daarna was die vurige slot Ameer Hendricks en die flink skrumskakel Hugan Engelbrecht op ’n kol saam in die koelkas vir oortredings.

Alastair Theys, CPUT se hoofafrigter, se span is ook genadeloos gestraf en het ’n allemintige 23 strafskoppe afgestaan.

Theys en sy regterhand, die voormalige Bok-vleuel Jongi Nokwe, sou die afgelope twee dae hard met hul span oor dié vrot dissipline gepraat het.

Die Tekkies verdien egter vermelding vir die feit dat hulle ten spyte van als wel die wa deur die drif kon trek.

In die vaste fasette het sake ook nie vlot verloop nie. Die manne van Bellville het by tye gemoonwalk in die skrums en besit vanuit die lynstane was ook nie skoon nie.

Die flanke Butsha Mputa en Ché Klaasen en die slot Anenceba Salman het egter soos tiere verdedig en tot die einde inklimspel gelewer.

Agterlangs het Engelbrecht beïndruk met sy diens, terwyl die ervare Lunathi Nxele en die vleuel Nathan Nkutu die agterlyn van Fort Hare hoofbrekens besorg het.

Nxele, wat die Tekkies in 2019 tot die VS-kroon gelei het, het die land tans aan die gons met sy spel, maar ook met die wyse hoe hy sy drieë gevier het.

Hy het ná sy eerste drie op ’n leë sitplek in die paviljoen gaan sit, sy bene gekruis en hande geklap soos ’n tevrede toeskouer.

Hy sê dis bloot om homself ’n klop op die skouer te gee.

Mis

“Ek wou maar net vir myself applous gee. Dis ook maar net om te wys dat ons die fans mis,” het Nxele aan Son verduidelik.

Die wedstryd teen Rhodes begin 15:00 en word op SuperSport uitgesaai.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters