2 maande gelede
Motorongeluk eis nog ’n sokkerster
madisha
Motjeka Madisha  ~ Foto: gallo images

NOG ’n bekende sokkerspeler van die klub Mamelodi Sundowns is in ’n motorongeluk oorlede.

Motjeka Madisha (25), wat op die verdediging vir die Ma­sandawana diens gedoen het, is gister in die oggendure in Kempton Park in Johannesburg dood.

Sy dood volg kort ná dié van Anele Ngcongca, wat verlede week ter aarde bestel is nadat hy die week tevore ook in ’n motorongeluk omgekom het.

UItblinker

Madisha was na bewering op pad huis toe van die Sundowns-klub se 50ste bestaansjaar­vieringe toe die ongeluk plaasgevind het.

Hy was ’n groot uitblinker by dié klub en hy het verskeie titels saam met die span van Pretoria gewen. Hy het Sundowns in 80 wedstryde in alle kompetisies verteenwoordig.

Madisha het voor sy tyd by Sundowns vir Highlands Park gespeel.

In 2015 het hy sy internasionale debuut saam met Bafana Bafana gemaak en hy het die nasionale span ’n verdere 13 keer verteenwoordig.

Molefi Ntseki, afrigter van Bafana Bafana, het in ’n verklaring gesê die dood van Madisha is ’n massiewe terugslag en hy sal dié speler onthou as ’n nederige mens wat altyd geglimlag het.

“Dit is hartverskeurend dat ’n opkomende jong speler sy lewe op so ’n manier verloor.

“Daar is nie baie spelers wat so professioneel is soos Madi­sha was nie.

“Hy het altyd geglimlag, hy was nederig en hy was altyd die eerste een wat by oefeninge opgedaag en die laaste een wat die oefenveld verlaat het,” het Ntseki gesê.

“Hy was ’n opkomende ster en sy opregte en positiewe houding was van groot waarde. Dit is hartseer vir sokker.”

Danny Jordaan, president van die Suid-Afrikaanse Sokkervereniging, het ook aan Madisha hulde gebring.

Hy het gesê: “Ek probeer nog al die feite kry oor wat presies gebeur het, maar dit is aaklige nuus vir sokker dié. Medelye met Sundowns, sy familie en die ganse sokkerfamilie.”

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters