3 maande gelede
Mosena het groot planne vir NMU
Planne: Lefa Mosena vat oor as krieketbreier.FOTO VERSKAF  ~ 

DIE voormalige provinsiale speler Lefa Mosena is gretig om Madibaz-krieket weer op die kaart te sit.

Die 32-jarige Mosena was ’n kolwer en paaltjiewagter vir die Knights, Vrystaat en KwaZulu-Natal-binneland.

Hy is opgewonde oor sy nuwe pos as hoofafrigter van die Nelson Mandela-Univer­siteit (NMU) se krieketklub.

Mosena sê krieket by die NMU is gesond.

Hy sê: “ ’n Belangrike positiewe faktor vir die Madibaz is die getal jong en nuwe spelers wat by die klub betrokke is.

“Voeg daarby dat matriekleerders belang stel daarin om hulle by die instelling aan te sluit en dit dra alles by tot die toekoms van die klub.”

Mosena voeg egter by dat hy besef baie werk lê voor om te verseker dat die Madibaz ’n mededingende eenheid op die universiteitstoneel bly.

Hy sê: “Baie klem sal nou geplaas word op die verbetering van ons vertonings in nasionale krieketweke en -kompetisies.

“Die opheffing en ondersteuning van ons vrouespan is ook hoog op die prioriteitslys.”

Vir Mosena, wat in Bloemfontein grootgeword het, was krieket altyd ’n groot deel van sy lewe.

Nadat hy aan St. Andrew’s daar gematrikuleer het, het hy vir die Vrystaat en Knights gespeel.

In 2011 is hy gekies vir die Universiteitesport Suid-Afrika (Ussa)-span en die nasionale akademiespan.

Verower

’n Paar jaar later het hy verhuis na Pietermaritzburg, waar hy die KwaZulu-Natal-binneland-span van 2015 tot 2018 verteenwoordig het.

Hy was daar ’n lid van die span wat die Africa T20 Cup verower het.

In sy loopbaan het Mosena ’n vlak 2-krieketafrigtingsertifikaat verwerf.

Oor hoe hy by die NMU beland het, vertel Mosena: “Ek wou ’n verandering in my afrigtingsloopbaan hê, toe kontak ek die Madibaz.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters