11 dae gelede
Morris ‘hoef niks aan iemand te bewys nie’
Tashreeq Morris  ~ BackpagePix

TASHREEQ Morris, striker van Cape Town City, sê hy voel onder geen druk om Kermit Erasmus se skoene vol te staan as die klub se leading marksman nie.

Met die ervare Erasmus wat onlangs na Mamelodi Sundowns geskuif het, sal daar veral gekyk word na die 25-jarige produk van Ajax Cape Town om die nette vir die Citizens te laat raas.

Vernuf

Morris is van mening dat Erasmus se vertrek niks aan sy denkwyse vir City verander nie.

“Ek is deur die klub gesign vir my vernuf en bekwaamheid as ’n striker, so ek hoef niks aan enige iemand te bewys nie,” reken Morris.

“Ek weet wat ek op die veld kan doen en opdis.

“Dis net ’n kwessie van meer konsekwent wees.

“Selfs as Kermit aangebly het, sou my uitkyk en werk­etiek nie verander het nie.

Ek sou steeds 150 persent en meer gee.

“Ek is goed bewus van my rol in die span.

“Ek het baie gegroei en volwasse geword, al het ek nie gespeel nie.”

Knaende beserings knou Morris sedert sy skuif na John Comitis se klub in September 2019.

Die boorling van Mitchells Plain het met sy terugkeer na die bio-bubble sy duck vir City verbreek met ’n doel en sy voete in die span begin vind.

“Ek het baie games in my loopbaan in die verlede gemis weens my beserings, maar dit was buite my beheer,” wys Morris uit.

“Al wat ek wil doen, is om te speel en goals te score.

“Ek het ’n goeie gevoel dat dié my seisoen gaan wees waar ek dit alles kan vermag.”

Tassie, soos Morris beter bekend staan, verwag om dit voort te sit wanneer hulle swaarde kruis met die Soweto-reus Orlando Pirates.

Dié MTN8-kwarteindstryd begin môre 18:00 in die Orlando-stadion.

Die kompetisie is ook die begin van die nuwe seisoen vir die Premierliga-spanne.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters