Verlede maand
‘Moet nie wegbreek’
VERGEET: Bekende spelers soos Lionel Messi sal dalk nie in ’n toekomstige Wêreldbekertoernooi kan speel as Europa se beste klubs in ’n voorgestelde Superliga speel nie.  ~ Getty Images

EUROPA se beste sokkerklubs moet eerder die planne vir ’n wegbreek­liga laat vaar – anders kan spelers by dié klubs maar vergeet om hul land in kontinentale toernooie of selfs ’n Wêreldbeker te verteenwoordig.

Fifa, sokker se wêreldbeheerliggaam, het Donderdag besluit om sy rug styf te maak.

Dít teen die voorgestelde planne vir ’n Europese Superliga waaraan bekende klubs soos Bayern Munich, Barcelona, Chelsea, Juventus, Liverpool, Manchester United, Manchester City, Paris Saint-Germain en Real Madrid­ sou deelneem.

Die uitgaande president van Barcelona, Josep Maria Bartomeu, het in sy laaste dae in beheer van die Spaanse sokkerreus gesê hy het reeds dié klub se deelname aan ’n Superliga vasgemaak.

Fifa en die kontinentale beheerliggame AFC, CAF, Concacaf, Conmebol, OFC en Uefa) het egter aangekondig hulle sal nie so ’n kompetisie goedkeur nie.

Beslis nie.

“Enige klub of speler wat in so ’n kompetisie betrokke raak, sal as nagevolg nie toegelaat word om mee te ding in enige kompetisie wat deur Fifa georganiseer word nie,” lees die liggaam se verklaring.

Die European Leagues-organisasie, wat ál dié kontinent se plaaslike kompetisies bymekaarbring, het ook Fifa en Uefa se standpunt ondersteun.

In ’n verklaring sê die liga-organisasie: “Die Europese sportmodel is gegrond op meriete­, promosie en relegasie, met kwalifikasie tot internasionale klubkompe­tisies via plaaslike ligas.

Inisiatief

“Ons is vasbeslote om die huidige model te beskerm. Ook die manier waarop sokker tot nou toe in Europa georganiseer word en hoe die bedryf vir beroepsokker werk.

“As die inisiatief (vir ’n superliga) in beweging gesit word, sal ons stappe in samewerking met Uefa, Fifa en die konfederasies uitvoer.” – Reuters

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters