9 dae gelede
‘Moeilik om mojo te vind’
maak soe, nuh? Jürgen Klopp verduidelik aan Joe Gomez wat hy gedoen wil hê.Foto: GETTY IMAGES  ~ 

LIVERPOOL se afrigter, Jürgen Klopp, sê: “Dit was moeilik om ons mojo te vind.”

Dis nadat sy span Dinsdag die skok van die seisoen toegedien is.

Red Star Belgrade het hom met 2-0 in hulle Champions League-wedstryd in groep C geklop.

Milan Pavkov het albei die Serwiese span se doele op sy tuisveld binne vyf minute in die eerste helfte aangeteken.

En dít het die wind uit Liverpool se seile gehaal.

Die besoekers van Engeland het daarna gesukkel om aan die gang te kom.

En dit is ten spyte daarvan dat die Reds meer balbesit geniet het.

Geluk het hulle ook ontwyk toe hulle die bal by twee geleenthede teen die regoppaal vas geskop het.

Liverpool kon ook nie deur Red Star se verdediging breek nie, en dít met spelers soos Mohamed Salah, Sadio Mané en Roberto Firmino, wat nogal kommerwekkend is.

Die vingers moet ook na Klopp gewys word oor sekere besluite wat die samestelling van sy span betref.

Waarom die Duitser weer sy back four verander het, weet net hy.

Klopp moet ontslae raak van spelers soos Joël Matip en Adam Lallana, wat nie juis ’n impak maak wanneer hulle ingespan word nie.

Maklik

Klopp se verskoning is: “Ek het al ’n hele paar wedstryde soos dié gesien, en dis moeilik om jou mojo te vind.

“Ons het die lewe te maklik gemaak vir hulle. Dis ernstig wanneer ’n mens twee keer verloor. Ons moet seker maak dit gebeur nie weer nie.

“Daar was tye dat ons beheer van die stryd kon geneem het, maar toe het ons die verkeerde besluite geneem.” – AP

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters