15 dae gelede
Modiba wag
RANDALL MODIBA Foto: MARK WARD  ~ 

TUSSENDEUR die gelukwensinge en high fives het Randall Modiba, afrigter van die Boland-Kavaliers, sy vuiste gebal om sy vreugde te wys.

Dít volg kort nadat sy span die Westelike Provinsie met 22-21 in die SuperSport Rugby Challenge geklop en ’n plek in die halfeindronde bespreek het.

“Mense weet nie wat dit vir my beteken nie,”’ het Modiba aan Son gesê. “Ons het in die verlede baie naby gekom om die WP te klop.

Bedank

“As ’n non-franchise-span moet daar maar altyd drie keer dieper gedelf word weens ’n tekort aan spelers en finansies.

“Ek wil die borge en SA Rugby bedank vir die platform wat hulle met die kompetisie geskep het om blootstelling aan ons talentvolle spelers te gee.”

Die Bolanders kom Sondag in Nelspruit teen die kampioen, die Pumas, in die halfeind te staan, terwyl die WP met die Griekwas swaarde sal kruis.

Die Griekwas het in Kimberley hulle plek in die halfeindronde bespreek toe hulle die Goue Leeus XV-tal met 45-26 geklop het.

Motiveer

Jerome Paarwater, WP-afrigter, sê al het sy span verloor, kom die nederlaag op “die regte tyd”.

Hy voeg by: “Ek het altyd gesê dis beter om ’n wedstryd in jou uitspeelronde te verloor. Dit is beter om die spelers te motiveer.”

Paarwater het Modiba wel gelukgewens met die sege – veral oor hoe hard die Bolanders daarvoor gewerk het.

“Ongelukkig het ons nie ons kanse goed genoeg benut nie,” aldus Paarwater.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters