13 dae gelede
Miller hou dit kort en kragtig
kits-spesialis: David Miller los eersterangse krieket. Foto: gallo images  ~ 

IN ’N poging om sy plek in die Wêreldbekergroep te verseker, gaan David Miller nie meer eersterangse krieket speel nie.

Dié hotkloukolwer sal wel in die korter weergawes van die spel vir Suid-Afrika en die Dolphins beskikbaar wees.

“Met die oog op volgende jaar se Wêreldbekertoernooi (in Engeland en Wallis) is dit vir my ’n belangrike besluit.

“Ek wil vir myself die beste geleenthede gee om vir die Proteas te speel in die formate waarvoor ek lief is.

“Dit was nie ’n maklike besluit nie, want ek het meerdaagse krieket ook geniet,” het Miller sy keuse verduidelik.

Die 29-jarige Miller was nooit ’n ernstige aanspraakmaker op ’n toetsplek nie, maar het die Proteas al in 109 ODI’s en 61 T20’s verteenwoordig.

Die uitvoerende hoof van Krieket Suid-Afrika, Thabang Moroe, sê hy verstaan Miller se besluit.

“Hy wil sy plek verseker en die Proteas help om die Wêreldbeker te wen.”

Miller is een van vyf Suid-Afrikaanse spelers wat by die uitspeelwedstryde van die Caribbean Premier League (CPL) betrokke is.

Hy is môre vir die Jamaica Tallawahs teen St. Kitts and Nevis Patriots in aksie.

Die Protea-draaier Tabraiz Shamsi en Miller kan mekaar dalk in dié stryd aandurf.

Die kolwer Rassie van der Dussen, wat al vir die SA A-span gespeel het, speel ook vir die Patriots.

Imran Tahir en Cameron Delport is in die Guyana Amazon Warriors se span wat vandag teen die Trinbago Knight Riders speel.

Tahir was met 15 paaltjies tot dusver een van die grootste sterre in die CPL.

Net Fawad Ahmed van die Trinbago Knight Riders met 17 slagoffers het meer paaltjies as dié Protea-bybreker laat kantel.

Delport, wat ook al SA A verteenwoordig het, beleef ’n skaflike toernooi.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters