8 dae gelede
Mercedes straks weer te vinnig
Lewis Hamilton  ~ Gallo Images

OF DIT nou Lewis Hamilton of Valtteri Bottas gaan wees wat die wenstreep eerste oorsteek, een ding is seker: Die res van die Formule 1 (F1)-karre sal weer hul bes moet doen om hierdie Mercedes-renjaers in te haal.

Mercedes, die huidige F1-kampioen, kan Sondag sy rekord van seges in die Britse Grand Prix verder strek. Hy het die laaste drie wedrenne in vorige seisoen hier gewen.

Nog ’n sege kan sy aanspraak op nog ’n vervaardigerstitel versterk.

Hamilton en Bottas kan ook hul gaping in die ren­jaerskompetisie vergroot en seker maak dat die wenner van vanjaar se F1 een van hulle sal wees.

Mercedes se W11-motor het reeds in Februarie se voorseisoense toetse gewys hy het geen gelyke nie.

Hamilton, wat nou al ses keer as F1-kampioen gekroon is, het klaar twee wedrenne in die W11 gewen, met Bottas een keer aan die wenkant.

Met ses agtereenvolgende oorwinnings op Silver­stone is Hamilton weer dié naweek die gunsteling – vir ’n sewende oorwinning.

Gewoond

Hamilton sê wedrenne op Silverstone is ’n hoogtepunt van sy jaar, maar hy het ook ondersteuners gewaarsku om tuis te bly.

Hamilton is gewoond daaraan om deur ’n see van Union Jack-vlae aangespoor te word.

Weens Covid-19-regulasies sal daar, soos in die vorige drie wedrenne, egter niemand in die pawiljoene kan kom sit en kyk hoe hul gunsteling-renjaers om die bekende Silver­stone-baan jaag nie.

Hieroor het Hamilton aan Sky Sports gesê: “Ek is so dankbaar dat ons weer F1 het en weer kan meeding.

“Natuurlik is daar dié jaar ’n groot verskil in die atmosfeer.

“Die atmosfeer op Silverstone is iets anders en iets waarna ek elke jaar uitsien.

“Ek gaan regtig die energie wat die skare na die baan sou gebring het verskriklik baie mis.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters