13 dae gelede
Meeting met Saskok oor KSA se toekoms 'positief'
Eugenia Kula-Ameyaw  ~ Foto Verskaf

TWEE beleërde sportfederasies om een tafel. Die een meer omstrede as die ander. Die een verhewe bo die ander en waarskynlik met die hef in die hand.

Dít, in ’n neutedop, is tans die situasie met die Suid-Afrikaanse Sportkonfederasie en Olimpiese Komitee (Saskok) in die een hoek en Krieket Suid-Afrika (KSA) in die ander.

Saskok het die spreekwoordelike hef in die hand, maar sy reputasie as ’n organisasie wat eintlik ’n verleentheid vir sport in die land is, maak hom nie juis die aangewese organisasie om ’n ander een onder administrasie te plaas nie.

Die twee organisasies het vergader om die weg vorentoe vir KSA te baan.

“Krieket Suid-Afrika en die Suid-Afrikaanse Sportkonfederasie en Olimpiese Komitee het Maandagaand ’n positiewe vergadering gehou,” het KSA gisteroggend in ’n mediaverklaring bekend gemaak.

Fokus

“Die vergadering bied ’n stap vorentoe in die rigting van ’n samewerkende benadering in die belang van goeie bestuur en uitvoerende bedrywighede.

“Belangrike punte is geïdentifiseer en beraadslaag deur die deelnemers, waaronder KSA se lede-raad en Saskok se raad van direkteure, met die uiteindelike doel om ’n verenigde fokus op die spel krieket te bereik.”

Drie afgevaardigdes van KSA se lede-raad sou gistermiddag in ’n virtuele mediakonferensie die uitkoms van hierdie vergadering bekend gemaak het.

Hulle het egter intussen van plan verander en die inligtingsessie met die media vind nou vandag plaas.

Hoewel KSA die vergadering as “positief” beskryf het, is daar luidens berigte reeds onsekerheid en lang gesigte oor wie die koste van Saskok se voorgestelde ondersoek na die bedrywighede van KSA moet dra.

The Citizen berig die bedrag wat genoem is, beloop glo in die omgewing van R40 miljoen. Hier kom moontlik nog groot perde!

  • Intussen het die Demokratiese Alliansie (DA) ’n beroep op Saskok gedoen om ’n onafhanklike ondersoek na dr. Eugenia Kula-Ameyaw, onafhanklike raadslid van KSA, se transformasiekomitee te doen.

Gepols

William Faber, die DA se adjunk-skaduminister van sport, kuns en kultuur, sê: “Dit het onder die aandag van die DA gekom dat dr. Kula-Ame­yaw, wat net ’n tydelike raadslid is aangesien sy nog nie ingestem is nie, onlangs ’n brief geskryf het dat die transformasiekomitee ’n rol moet speel in die keuse van spelers vir die verskillende spanne.”

Son het KSA oor die bewering gepols, maar het teen die skrywe van hierdie berig nog geen repliek ontvang nie.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters