8 dae gelede
McKenzie op nr.10
Damian McKenzie  ~ _getty images

NÓG ’n toets van hul diepte wag wanneer die All Blacks die naweek vir ’n tweede keer teen Argentinië te staan kom.

Nieu-Seeland pak die Poemas Saterdag in Brisbane in albei spanne se vierde toets in die Rugby Cham­pionship.

Die All Blacks is die enigste onoorwonne span oor in dié kompetisie nadat hulle die Poemas in die Gold Coast met 39-0 geklop het. Die Springbokke is hul onoorwonne status kwyt ná ’n skoknederlaag van 26-28 teen die Wallabies.

Daar word uit Kiwi-land verwag dat die All Blacks ’n sterker span op die veld kan stoot, maar daar heers kommer oor die beskikbaarheid van die losskakel Beauden Barrett.

John Plumtree (hulpafrigter) het gister onthul Barrett se besluit om die skopwerk pale toe aan sy broer Jordie oor te laat, was weens styfheid in sy been.

As Beauden laat rus word, beteken dit McKenzie sal dalk in die nr. 10-trui moet uitdraf, maar daar sal dan nie ’n plaasvervanger beskikbaar wees nie.

Daar is nog nie ’n Richie Mo’unga op wie se knoppie gedruk kan word nie. Dié eerste keuse vir die All Blacks op losskakel is nog in Nieu-Seeland, waar hy die geboorte van sy eerste kind afwag. En soos sake tans staan, gaan Mo’unga hom dalk eers weer by die All Blacks kan aansluit wanneer die Rugby Championship verby is, en voordat hulle op hul toer na Amerika en Europa vertrek.

Gesprekke

Plumtree het wel bevestig dat Codie Taylor (haker), Ethan de Groot en Ofa Tu’ungafasi (stutte), Patrick Tuipulotu (slot) en Ardie Savea (agtsteman) beskikbaar is om te speel.

“Ons het nog nie die span gekies nie. Foz (hoofafrigter, Ian Foster), Foxy (keurder, Grant Fox) en ek hou nog gesprekke daaroor. Daar’s drie fisieke toetse wat wag.

“Ons sal ons manne so moet gebruik dat ons seker moet maak daar is genoeg energie voordat ons die Bokke pak,” aldus Plumtree.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters