8 dae gelede
Masutha ‘weggejaag’
Joel Masutha  ~ backpagepix

CHIPPA United het Dinsdagaand groot veggees getoon teen Orlando Pirates, maar dit was nie genoeg om die afrigter, Joel Masutha, se bas te red nie.

Orlando Pirates het die Baaienaars met 4-2 in die Orlando-stadion afgestof.

En nou moet Clinton Larsen glo kom kyk of hy die Chilli Boys van relegasie uit die PSL kan red.

Masutha het gistermiddag gehoor hy moet vir hom ander werk soek.

Hy is nou die derde afrigter wat reeds hierdie seisoen deur die voorsitter, Chippa Mpengesi, afgedank is.

Eric Tinkler is voor Kersfees die deur gewys nadat Dan Malesela ná drie games aan die begin van die seisoen ook in die pad gesteek is.

Volgens gerugte is die voormalige Golden Arrows-breier Larsen nou die man met wie Chippa tans onderhandel.

Larsen is onlangs by Arrows gefire nadat hy self gesukkel het om die span aan die gang te kry.

As hy by Chippa oorvat, sal hy 10 dae hê voor die span se volgende stryd.

Larsen sal mooi moet besin daaroor of hy ook een van Chippa se victims wil word.

Soos sake tans staan, is die Chilli Boys se ticket op pad terug na die Eerste Liga (NFD) baie naby aan reeds bespreek.

Hoe dit ook al sy, Chippa sit steeds net een punt bo Maritzburg United, wat tans in die 16de plek is.

As Chippa nie vinnig uitvind hoe om weer te wen nie, gaan die Team of Choice hom verbysteek.

Chippa is tans in die 15de plek, en die span wat die seisoen in dié posisie afsluit, moet in ’n uitspeeltoernooi speel om sy plek in die PSL te behou.

Die doelwit sal dus nou moet wees om in dié posisie te bly. Dit gee Chippa ten minste ’n kans om sy bas te red. Hy sal moet uithaal en wys in sy volgende PSL-stryd, nogal teen Maritzburg.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters