6 maande gelede
Masotti praat met WP-Klubs
André van der Veen
André van der Veen  ~  VERSKAF

TWEE voormalige direksielede van WP Rugby se sakevleuel het glo in die geheim ’n aanlyn vergadering met Superliga A-klubs gehou.

Dít is na bewering om die klubs te oorreed om ’n voorgestelde ooreenkoms tussen die Westelike Provinsie Rugbyvoetbalunie (WPRVU) en Marco Masotti te ondersteun.

Masotti, wat aan die stuur van die Amerikaanse konsortium MVM Holdings is, beoog om sowat R100 miljoen vir 51% in die sakevleuel van die WPRVU te belê.

Die WPRVU is ’n 100%-aandeelhouer van die sakevleuel.

Om die ooreenkoms met die WPRVU te sluit, moet Masotti en sy konsortium eers die goedkeuring van die sowat 106 klubs in die WP kry.

Luidens Son se inligting heers daar ’n gevoel dat sekere klubs hulself skuldig gemaak het daaraan dat hulle die grondwet van die WPRVU oortree het.

Dít volg omdat dié vergadering sonder die wete van klubs in ander ligas, WPRVU se amateurarm en die WP se direksie plaasgevind het.

Die twee voormalige direksielede André van der Veen en Kevin Kiewitz het na bewering die vergadering gereël. Van der Veen is die persoon wat die ooreenkoms met Masotti na die tafel gebring het.

Kiewitz het uit die WP se direksie bedank, terwyl Van der Veen se termyn nie op die WP se alge­mene jaarvergadering hernu is nie.

Van der Veen het gister oor die aantygings vir Son gesê: “Baie mense vra my vir inligting. Al wat ek gedoen het, was om Marco (Masotti) se kontak­besonderhede met hulle te deel en te fasiliteer hoe om met hom in verbinding te tree.

“Die probleem is dat baie van die klubs inligting wil hê. Dis moeilik vir hulle om inligting van Marco te kry omdat hy in Amerika is. Die klubs lees tans alles in koerante en weet nie wat aan die gang is nie.

“Dit is nie meer my fight nie. Zelt (Marais, die WP-president) moet besluit of hulle die deal wil cancel of nie. Dit lyk tans asof Zelt-hulle nie aan die klubs die inligting gee nie.

“Marco is gretig om die details van sy plan te deel. Ek dink dis ’n goeie ding.”

Platform

Masotti het laas week uit New York aan Son gesê hy sal selfs so ver gaan as om ’n gesament­like belegging met iemand anders te maak om die ooreenkoms ’n sukses te maak.

“My idee is om eerstens my eie geld na die tafel toe te bring.

“Ons wil graag rugby gebruik as ’n platform om die gemeenskap en die klubs met kontantinspuitings van R25 000 en ’n maandelikse bedrag van R1 500 te bou.

“Ek is gelukkig dat alles in die openbaar moet wees sodat almal net die feite kan hê. As daar iemand anders is wat met ’n beter aanbod kom, sal ek nie in sy pad staan nie,” sê hy.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters