3 maande gelede
Marquit happy by SWD
Blink uit: Marquit September is die SWD-Arende se voorste drieëvraat. Foto’s: MARK WARD  ~ 

DAAR word dikwels gesê ’n liga-veldtog in rugby is ’n marathon, maar vir die SWD-Arende is dit ’n naelloopstryd in dié jaar se SuperSport Rugby Challenge.

Die rede waarom dit as ’n naelloop beskou word, is omdat die unie se klubspelers nie naastenby so fiks is soos hulle teenstanders in spanne soos die Boland en Westelike Provinsie nie.

“Ons kom daar - met rukke en stote. Ons glo egter ons is op koers,” het Eddie Myners, breier van die Arende, aan Son gesê.

Myners het laas naweek rede gehad om te glimlag.

Sy troepe het Zimbabwe met 31-30 uitoorlê.

Sy span se senter Marquit September het twee drieë teen Zimbabwe gedruk en is nou saam met Jamba Ulengo van die Vrystaat die voorste driedrukker in die kompetisie. Albei het vyf drieë agter hulle naam.

September het vroeër in die seisoen vir die klubspan Heidelberg in die SWD se Premier­liga uitgedraf.

Hy was laas jaar nog by die Blou Bulle gekontrakteer voordat hy van sy kontrak vrygestel is.

“Dit is lekker om vir SWD te speel,” sê September.

“Die coach het my ’n geleentheid gegee en ek gaan dit met albei hande vat.

“Ek sal net ’n bietjie harder werk aan my kondisionering en dit van daar af vat. My droom is steeds om Superrugby te speel.”

Myners is bly oor September se vordering.

Toegewyd

“Hy is ’n baie goeie speler. Op die oomblik praat ons oor die harde werk van sy kondisionering.

“Hy is in hierdie stadium regtig toegewyd en hy is reeds ’n sleutelspeler in ons groep.”

Daar wag egter hierdie Saterdag in Bloemfontein ’n reuse-stryd op die manne van die Suid-Kaap. Die Vrystaters is opgecharge ná hulle sege oor die OP Olifante.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
2 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters