4 jaar gelede
Marcell kom Kaap toe
VUURVRETER: Marcell Coetzee gaan glo volgende seisoen vir die Westelike Provinsie en die Stormers uitdraf. Foto’s: gallo Images  ~ 

MARCELL Coetzee is op pad na die Kaap om vir die Westelike Provinsie en die Stormers te speel.

Só het Toks van der Linde Sondag in ’n eksklusiewe onderhoud aan Son op die King Shaka-lughawe in Durban ná Saterdag se Curriebeker-eindstryd gesê.

Die voormalige Springbok-stut sê hy is baie opgewonde daaroor dat Coetzee sy loopbaan volgende jaar in die Kaap gaan voortsit. Die 26-jarige boorling van Potchefstroom speel tans vir Ulster in Ierland rugby. Hy het reeds in 28 toetse vir die Bokke uitgedraf.

Ingevolge SA Rugby se reëls moet ’n speler wat oorsee speel in 30 of meer toetse vir die Bokke gespeel het om vir die huidige Bok-span te kwalifiseer.

Van der Linde glo Allister Coetzee, die Bok-breier, het sy spankeuses met die losvoorspelers in sy groep van 34 vir die jaareindtoer na Europa heeltemal verkeerd gekry.

Van der Linde sê: “Ek glo die twee losvoorspelers van die WP Sikhumbuzo Notshe en Nizaam Carr moes albei in die Bok-groep gewees het.

“Ek kan nie glo dat nie een van dié twee in die squad is nie.

“Ek meen hy (Notshe) is ’n outjie wat laas week in die semi opgekom en weer gister (Saterdag) in die CB-eindstryd gewys het waartoe hy in staat is.

“Ek hou geweldig baie van hom. Ek dink hy is ’n speler vir die toekoms. Almal het vir Carr afgeskryf ná sy besering. Hy speel ook uitstekende rugby en was gister weer briljant.

“Min mense weet Marcell Coetzee kom volgende jaar Stormers toe. As Marcell, Nizaam en Notshe saam speel, gaan hulle fantasties as ’n trio wees.

“Dit is ongelooflik om te dink die Storm­ers kan volgende jaar spog met ’n vaste vyf van die kaliber van Wilco Louw, Steven Kitshoff, Bongi Mbonambi en Frans Malherbe. En dan is daar nog Eben Etzebeth en Pieter-Steph du Toit op slot.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters