3 dae gelede
Mapoe: Dit was ’n baie lekker wen
Rayno Mapoe  ~ 

VANJAAR se Varsity Cup het sommer reeds op dag twee van die toernooi vir ’n reuse-opskudding gesorg toe die Ikeys die Maties, die verdedigende kampioen, met 26-20 geklop het.

Dit was die Stellenbossers se eerste nederlaag in 25 wedstryde én die eerste keer in 6 jaar dat die Ikeys hul Kaapse derby teen hul aartsvyande wen.

Rayno Mapoe, ’n voormalige Ikey en neef van die Springbok-senter Lionel Mapoe, was in die wolke oor sy alma mater se oorwinning. Hy het gister aan Son gesê: “Dit was ’n baie lekker wen, as jy my vra.

“Dit was ’n tipiese armdrukstryd in die begin en ons het dit nie vir onsself maklik gemaak deur ’n rits strafskoppe af te staan én twee geelkaarte te kry nie.

“Ek was baie trots dat die manne die knoop kon deurhak.”

So, dink Mapoe die Ikeys kan ver gaan in die kompetisie?

“Ja, beslis,” antwoord hy sonder aarseling. “Maar almal se oë gaan nou op ons gerig wees, aangesien ons die verdedigende kampioen geklop het. Hulle het ’n span wat die vermoë het om ál die pad te gaan.

“Ek was beïndruk met Liam Kloosman op linkervleuel – veral as jy in ag neem dat hy eintlik ’n skrumskakel is. Die kaptein, Liam Greenhalgh, het ’n baie goeie wedstryd beleef en James Tedder op losskakel is welverdiend as die speler van die wedstryd aangewys.

“Dit was in die algemeen goeie vertonings van sleutelspelers wat die knoop vir ons deurgehak het,” laat hoor Ma­poe.

Die Ikeys kom Donderdag op Loftus Versfeld teen Wits te staan voordat hulle Sondag teen UJ hul eerste bio-borrel-week afsluit.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters