6 dae gelede
Manny waag dalk teen Spence
VONKE GAAN SPAT: Manny Pacquiao en Errol Spence jr. op ’n nuuskonferensie.  ~ Getty Images

OM DIE gedugte en onoorwonne Errol Spence jr. in die bokskryt te pak nadat jy twee jaar buite aksie was lyk na ’n groot waagstuk vir die Filippynse held Manny Pacquiao.

Dié twee pak mekaar op 21 Augustus in Las Vegas om die WBC en IBF se weltergewigtitel.

Hoewel hy lank nie geboks het nie, sê die 42-jarige Pacquiao hy is topfiks en kan nie wag om weer appels te swaai nie.

Pacquiao, die enigste bokser wat ’n wêreldkampioen in agt verskillende afdelings was, is uiteraard dié keer nie die bookmakers se gunsteling nie.

Laaste

Hy is ook die enigste bokser ooit wat in vier verskillende dekades (die 1990’s tot 2020’s) ’n wêreldtitelhouer was.

Pacquiao se laaste boks­geveg was op 20 Julie 2019 toe hy die hoog aangeskrewe Amerikaner Keith Thurman naelskraap met punte geklop het.

Dit was ook Thurman se eerste nederlaag van sy loopbaan.

Spence se laaste krag­meting was op 5 Desember verlede jaar toe hy Danny García met punte verslaan het.

Op 31 is Spence boonop 11 jaar jonger as Pacquiao, wat ook sterk in sy guns behoort te tel.

Die Daily Mail berig Mike Tyson het Spence gewaarsku om Pacquiao versigtig te benader.

Beweeg

“Jy kan Pacquiao nooit afskryf nie, want sy oorwinning oor Thurman het dit duidelik onderstreep.

“Pacquiao kan beweeg en jou aand bederf want hy f*k almal op,” het Tyson bygevoeg.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters