3 maande gelede
Mallett in ekstase oor Gelant
NÓG EEN! Die Bull-held Warrick Gelant druk Saterdag teen die Sharks een van sy drieë. Lukhanyo Am is te laat om hom te keer.Foto’s: GALLO IMAGES  ~ 

DIE voormalige Springbok-afrigter Nick Mallett was Sater­dagaand in ekstase oor die spel van die Bulls se heelagter, Warrick Gelant.

Gelant het drie drieë gedruk in sy span se wegholoorwinning van 40-10 oor die Sharks in Durban.

“Vanaand was Gelant absoluut briljant. Hy het nog nooit in sy lewe ’n beter wedstryd as dié een gespeel nie.

“Dit was die beste heelagterspel deur ’n Suid-Afrikaner wat ek in ’n baie lang tyd gesien het,” het Mallett sy lof besing.

Mallett was ook beïndruk met die groot tackles wat Gelant ingesit het.

“Die Bulls was uit­stekend, terwyl die Sharks die laaste tien minute stupid foute gemaak het.”

Mallett was ook vol lof vir die groentjie-flank, Marco van Staden, wat ’n doring in die tuisspan se vlees was.

Die voormalige Springbok-kaptein Naas Botha het gesê die Sharks se lynstane was skokkend. “Hulle was deurgaans onder groot druk en boonop was hul taktiese skopwerk nie genoeg om die Bulls terug te dryf nie.

“Benewens die skitterende spel van Handré Pollard op losskakel, moet ons nie die bydrae van die slotte, Lood de Jager en RG Snyman, vergeet nie. Hulle het voorlangs die grondslag gelê.”

Die oud-Springbokvleuel Breyton Paulse het gesê dis duidelik onder John Mitchell is dinge aan die gebeur.

“Die Bulls se verdediging was uitstekend,” het hy gesê.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters