7 dae gelede
Maak Reds kampioen, vra Klopp
Jürgen Klopp  ~ Getty Images

JÜRGEN Klopp, manager van Liverpool, dring aan dat sy spelers verdien om Engelse Premierliga-kampioene verklaar te word – selfs al loop die seisoen dood.

Klopp se Reds is ’n hele 25 punte voor op dié liga se punteleer. Manchester City is tweede.

Covid-19 het in Maart alle wedstryde onbepaald kom staak.

Die Engelse Premierliga se ringkoppe het intussen deurlopende gesprekke oor Project Re­start gehad.

Liverpool se spelers het reeds in klein groepe na die oefenveld teruggekeer. Die datum vir die beplande afskop tot die oorblywende wedstryde is 12 Junie.

Daar is tog nog ’n vooruitsig dat die seisoen nietig verklaar kan word.

Klopp het sy mond uitgespoel oor hoe onregverdig dit sal wees as Liverpool ná so ’n dominante seisoen nie as die kampioen verklaar word nie.

Klopp het luidens AP gesê: “Daar was sprake van die seisoen wat nietig verklaar sou word.

“Huh? Ons het reeds 76% van die seisoen gespeel en jy wil alles net uitvee?

“Persoonlik vind ek dit baie onregverdig sou dit nie gebeur nie. Ons is bo-aan die punteleer tuis en weg.

“Dis die seisoen waarin ons die kampioen moet wees.”

Klopp het verder gesê: “Om die Covid-19-krisis te hanteer is vir eers die belangrikste aspek­, maar dit beteken nie dat sekere dinge van g’n belang is nie.

“Daar is erger dinge in die lewe as om nie as kampioen verklaar te word nie.

Reageer

“Mense sterf, dit gebeur altyd, maar op die oomblik is dit weens die virus waarvan ons nie geweet en op voorbereid was nie.

“Ons kan ongelukkig nie vir alles voorberei nie, maar ons moet gereeld reageer.

“Dis die grootste deel van my lewe – om te reageer op dinge wat ek glad nie verwag het nie”. – Sportredaksie

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters