3 maande gelede
Maak of breek vir Stormers
hy is terug! Seabelo Senatla oefen gister in Bellville saam met die Stormers.Foto’s: GALLO IMAGES  ~ 

DIE terugkeer van spelers soos Damian de Allende, Scarra Ntubeni en Seabelo Senatla behoort die Stormers ’n groot hupstoot vir die laaste wedstryde van Superrugby se groepfase te gee.

Die Stormers kom Saterdag op Nuweland teen die Sharks te staan.

’n Sege oor die Durbaniete behoort genoeg te wees vir die Kapenaars om ’n plek in vanjaar se play-offs te bespreek.

Dit sal die derde keer in vier jaar wees dat Robbie Fleck (afrigter) en sy span Superrugby se kwarteindronde haal.

Hulle gaan egter teen ’n desperate Sharks-span te staan kom. Die Sharks is boonop net een punt agter hulle in die Suid-Afrikaanse afdeling.

Kwalifiseer

Fleck glo die tuisveldvoordeel behoort baie sterk in sy span se guns te tel.

Hy weet egter self dat ’n sege oor die Sharks ononderhandelbaar is.

Die vier plekke bo-aan die log is reeds bespreek, maar nege spanne staan nog ’n kans om vir die vier buiteperd-posisies te kwalifiseer.

As die Stormers Saterdag teen die Sharks vasval, sal dit Fleck se laaste wedstryd in beheer van die Kaapse franchise wees.

Die voormalige Springbok-senter gaan dus alles in die stryd werp om seker te maak sy span tree met ’n oorwinning uit die stryd.

“Ons tuisrekord was tot dusver vanjaar baie goed,” het Fleck gister by die Stormers se oefenbasis in Bellville gesê.

“Die enigste game wat ons by die huis verloor het, was teen die Brumbies.

“Dit was ’n game waarin ons gedomineer het en beslis moes gewen het.

“Ons is baie trots op ons tuisrekord en ons gaan alles doen om die game te wen.

“Die planne is reeds in plek om die manne genoeg selfvertroue te gee om dié naweek te wen.

“Ons het onsself ’n kans gegee om te kwalifiseer. Dit gaan nou net alles om daai oorwinning te kry.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters