Verlede jaar
Lulu Boys 'n klub vir almal
Reuben Riffel.  ~ Verskaf

RUGBYKLUBS in die Westelike Provinsie het elkeen ’n baie unieke geskiedenis.

Die geskiedenis by talle klubs word nie altyd goed en heelhartig gedokumenteer nie, dus ly hierdie aspek van gemeenskapsklubs daaronder.

Tog is daar nog genoeg tyd om hierdie issue aan te pak en seker te maak die volgende generasies weet hoekom sekere klubs steeds bestaan selfs nadat ’n hele seisoen afgelas is.

’n Goeie voorbeeld van ’n klub met ’n sterk verbintenis tot sy gemeenskap waarin hy geanker is, is St. George’s in die Strand. Dié klub is in 1941 gestig.

St. George’s, beter bekend as die Lulu Boys, is uit die St. George’s Anglikaanse Kerk gebore wat ook die St. George’s Skool tot stand gebring het.

Herman Abrahams was die lekebedienaar wat dienste vir die Anglikaanse gemeente in die skoolsaal behartig het. Die skool was geleë waar Halfway Bricks nou is.

St. George’s RFC het daaruit sy ontstaan gekry. In die begin het die klub as “Bits en Pieces” bekend gestaan.

Hulle is so gedoop omdat die klub, spesifiek die tweede span, nooit die veld voltallig gevat het nie.

Dit was altyd 12 of 13 spelers en soos die wedstryd aangegaan het, het die ander manne bygekom om die 15-tal vol te maak.

Die klub het as gevolg van die Groepsgebiedewet in die 1960’s vanaf Halfway in die Strand eers na die “Kraal” (Abattoir Park) en toe later na Gustrouw verskuif.

Gustrouw is steeds vandag St. George’s se tuiste.

Geskreeu

Selfs die bynaam Lulu’s kom met sy eie hoofstuk in die annale van St. George’s, maar met soveel weergawes is daar min mense wat eintlik regtig weet waar die bynaam sy oorsprong gekry het.

Een van hierdie stories is dat dit ’n Griekwa-kreet is wat deur ’n voormalige kaptein, Lontie Alexander van die Noord-Kaap, voor elke wedstryd in die kleedkamer geskreeu is.

Die term “loeloe” beteken rofweg “wen” of “probeer harder”.

Daar word ook baie waarde aan respek, dissi­pline en ’n sterk administratiewe been binne hierdie klub geheg.

Edgar Samuels wat in die sewentigerjare gespeel het, maak melding van ’n paar uitstaande spelers, asook van sy mooi oomblikke as ’n Lulu Boy.

“St. George’s het uit­stekende spelers deur die jare gehad.

“Arthur Daniels, Adam ‘Brakkie’ Robertson, Ballie Robertson en die lys is lank. Ons het drie spelers in die Somerset Board-span gehad wat in 1970 die LC Kearns-trofee gewen het om as destydse Federasie-kampioene bekroon te word.

“Die volgende jaar het die klub oorgegaan na Saru.

“Somerset Board het sedert 1970 nog nie weer ’n trofee gewen nie. Hulle het wel in 1982 teen Tygerberg Unie in die finaal verloor.”

Reuben Riffel is die klub se jongste voorsitter. Hy het in die vroeë 1980’s die leisels oorgeneem. Hy is ook die langste dienende voorsitter van die klub.

Riffel, wat hom in die 1980’s as spelersafrigter beywer het, is al sedert 2012 tot WP se uitvoerende bestuur gekies.

Riffel meen tóg die Lulu Boys is soos enige ander klub, al is dit een van die oudste klubs in die Helderberg-streek wat sedert sy ontstaan nog sy identiteit behou het.

“Ek dink nie dié klub is anders nie. Dié klub is geseën met goeie leierskap oor die jare. Manne soos Erefaan Fanie, Wilfred Baard, Basil Fortuin, Gamiet Adams, Johnny Jeftha en natuurlik meester Abrahams.”

As die jongste voorsitter wat die klub ooit gehad het, meen Riffel hy het op die skouers van legendes gestaan.

“Dit was maklik, want dié in my eie ouderdomsgroep het hulle by die klub kom aansluit.

“Respek vir die ouer lede was nie onderhandelbaar nie en die oorskakeling van leiers verloop altyd seepglad.

“Finansies kom eerste en word gereeld gerapporteer en geoudit.”

Blazers

Anton Fortuin, een van die klub se oudspelers in die 1980’s, vertel nostalgies oor die Lulu Boys: “Vir my was dit altyd hoe St. George’s aangetrek het.

“Ons was van die min, dalk selfs die enigste, gemeenskapsklub wat altyd blazers en tracksuits gehad het.

“Ek kan nie onthou van ’n tyd dat ons as spelers, junior of senior, al ooit sonder ’n amptelike drag by enige klub-aangeleentheid was nie.”

Winston Baard meen St. George’s se eerste en tweede span was in die middel-80’s (1985-1987) ewe sterk.

“Toe ons senior spelers was, was dit ’n baie goeie span. Ons tweede en eerste spanne was albei ewe goed.

“Jy moes hard werk om in die eerste span te speel. Ons was in daai tyd ook baie suksesvol as die Somerset Board-kampioene.”

Veelsydige

St. George’s het onder Saru gespeel en het onder die gesogte Somerset Board-unie geval. Hier het hy legendariese spelers opgelewer soos Irven October, Martin Josephs, Mickey Fisher, Martin Matthysen, Shamiel La Meyer, Clive van Wyk, Smith Petersen, Ebrahim “Paai” Gafieldien, Shawn Simons, Boy Hartley, om maar ’n paar name te noem.

October het ook later ’n regular in die Saru-span geword waar hy hom as ’n gedugte, veelsydige agterspeler beklemtoon het. Dit was toe Peter Collins die voorsitter van die klub was.

Ná eenwording in 1992 is die Lulu Boys by WP se Super B ingedeel.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters