7 dae gelede
Los sokkerseisoen, versoek Kaap
Bennett Bailey  ~ Gallo Imagess

BENNETT Bailey, president van Safa Cape Town, sê hulle wag nog in spanning op terugvoer van die nasionale beheerliggaam (Safa) oor die pad vorentoe vir sokker.

Dit volg nadat Safa CT ’n versoek aan die custodian van sokker in die land gestuur het om die plaaslike 2019-’20-seisoen te kanselleer te midde van die Covid-19-pandemie.

Sokker is twee maande gelede onbepaald gestaak.

Plaaslike amateurspanne moes nog minstens die helfte van die seisoen se wedstryde voltooi.

Bailey het gister verduidelik dis presies dieselfde prentjie in die ander provinsies, waar klubs in die Derde Liga nog iets soos 13 of 14 wedstryde oor het.

Volgens Bailey is niemand gretiger as hy en sy organisasie om die sokkerseisoen te hervat nie.

“Julle weet ek preek gedurig­ ‘soccer shall be played,’ ongeag wát,” verduidelik Bailey.

Beste

“Maar in dié geval met die corona-virus kan ons nie onverantwoordelik optree nie, want jy het te doen met mense se lewens – dit kom eerste.

“Dit is juis waarom ons ’n no promotion- en no relegation-voorstel aan Safa nasionaal maak om die seisoen nietig te verklaar.

“Ek dink dit sal die beste oplossing wees vir die 2019-’20-seisoen,” verduidelik Bailey via Zoom.

“Daar is ongelukkig net te veel wedstryde oor om nou al reeds te sê wie ’n liga sal kan wen en wie nie – of selfs om enige span die kampioen te verklaar.

“Ek onthou ’n paar seisoene gelede het my klub, Junction Rovers, seker gelyk om gerelegeer te word.

“Maar die manne het hard geveg en is toe nie gerelegeer nie.

“Dis waarom dit onregverdig is om te voorspel wie kan en wie kan nie omdat daar nog só baie wedstryde oor is.”

Volgens Bailey kyk hulle reeds na ander opsies vir die 2020-’21-seisoen indien die situasie van die huidige Covid-19-pandemie ver­beter wat die lockdown-vlak betref.

“My span is reeds besig met voorstelle – soos om verskeie kompetisies aan te bied om sokker weer aan die gang te kry.

Vars

“Dan is daar ook die opsie om die oorblywende wedstryde van die huidige seisoen in die volgende ene af te handel.

“Sodoende kan ons die 2021-’22-seisoen vars afskop,” sluit Bailey af.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters