5 maande gelede
Lood wil lei deur voorbeeld
HEMELBESEM: Lood de Jager wil sy manne op die veld met sy spel inspireer. Foto: GALLO IMAGES  ~ 

LOOD de Jager wil graag ’n kaptein wees wat nie baie praat nie en deur sy voorbeeld lei.

Die 26-jarige boorling van Alberton in Gauteng het die Springbokke sedert 2014 reeds 38 keer verteenwoordig.

Laas week is hy as die nuwe kaptein van die Bulls fran­chise aangestel.

De Jager wil graag wys waarom hy gekies is om die Bulls vanjaar in die Superrugby-reeks aan te voer.

Die span van Pretoria spog met talle ervare spelers in sy groep.

Dit sluit nuwe spelers soos Schalk Brits en Duane Vermeulen in, asook Handré Pollard, die Bok-losskakel.

Burger Odendaal, wat laas jaar die span aangevoer het, is steeds ’n lid van die groep.

De Jager het oor sy nuwe rol gesê: “Ek was nog nie ’n kaptein in baie plekke nie.

“So, ek kan nie regtig sê wat my styl is nie.

“Al wat ek kan sê, is die kapteins onder wie ek gespeel het – en dié wat ek die meeste respekteer – het almal deur hulle voorbeeld gelei.

“Die kaptein moet die span lei met sy aksies op die veld.

“Ek glo om mooi te kan praat, is nice, maar die kapteins wat hand opsteek wanneer dinge swaar gaan, is die manne wat ek die meeste respekteer. Ek wil graag ook deur my voorbeeld lei en nie te veel praat nie.

“Daar is baie goeie leiers rondom my wat my kan bystaan wanneer dit nodig is.

“Ek sal nou en dan iets sê, maar jy moet eers jouself op die veld bewys.”

Behalwe die nuwe aanwinste is daar ook staatmakers soos Trevor Nyakane, Jason Jenkins en RG Snyman in die enjinkamer wat die grondslag voorlangs vir die Bulls se opwindende agterlyn kan lê. – SuperSport

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters