Verlede maand
Liverpool, Man Utd vry
Saúl Ñíguez  ~ Getty Images

DIE verteenwoordigers van Saúl Ñíguez is op pad Engeland toe om met Manchester United en Liverpool te gesels, terwyl daar vier klubs in die wedloop is vir nóg ’n middelskakel se dienste.

Jürgen Klopp se Liverpool en Arsenal is glo twee van dié klubs wat in laasgenoemde speler se dienste belangstel.

Ñíguez hoop om vandeesweek nog te hoor of hy wel sy sokker in Engeland gaan speel, met Liverpool en United wat voor in die ry staan.

Aanbod

Die Sunday Mirror berig Atlético Madrid het die speler en sy agent toestemming gegee om met die Engelse klubs te gesels.

Ñíguez het ’n kontrak van vyf jaar met Atlético, maar die La Liga-kampioen is bereid om hom te laat loop indien die regte aanbod kom.

Liverpool soek steeds ’n speler om Georginio Wijnaldum te vervang, terwyl United ’n plaasvervanger wil opline indien Paul Pogba Old Trafford verlaat.

Ñíguez se mense sal glo vandag reeds in Engeland aankom.

Pogba se toekoms by Old Trafford bly onduidelik en die speler het nog nie ’n nuwe kontrak onderteken nie. Hy het nog net een jaar van sy huidige kontrak oor.

In ’n verrassende verslag uit Spanje word beweer dat Mino Raiola, Pogba se agent, die dienste van die Wêreldbeker-wenner aan Liverpool aangebied het.

Le10 Sport beweer dat Raiola die Reds ingelig het oor die beskikbaarheid van Pogba, hoewel die klub die aanbod van die hand gewys het.

Die verslag noem egter dat Klopp-hulle in Januarie van plan kan verander indien Pogba steeds nie sy kontrak verleng het nie.

Intussen word beweer dat Pogba na Manchester teruggekeer het om die voorseisoense oefeninge vandeesweek te hervat nadat hy sy vakansietyd in Miami deurgebring het. – AP

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters