14 dae gelede
Lions wil wys hoe score mens teen Stormers
Andries Coetzee  ~ Gallo Images

DIE Lions wil Saterdag die eerste span in vanjaar se Superrugby-reeks word om punte teen die Stormers aan te teken.

Só sê Andries Coetzee, die Gautengers se heelagter en Springbok, voor die naweek se groot SA derby op Ellispark.

Die Stormers het ná twee games dié jaar nog nie ’n enkele punt in Superrugby afgestaan nie.

Coetzee beskou dié statistiek as baie merkwaardig, veral in ’n kompetisie soos Superrugby wat bekend is vir opwindende rugby en spoggerige drieë.

Maar net om punte teen die Stormers aan te teken is nie die enigste mission vir die span van die Goudstad nie.

Volgens Coetzee is daar aspekte van hulle spel wat drasties moet verbeter om aan hulle fans te wys hulle is ’n span wat dié seisoen kan meeding vir die titel.

“Ons is gelukkig met die wen, maar daar is harde werk wat gedoen moet word.

Moeiliker

“Ons is ’n jongerige span en dié week face ons een van ons grootste uitdagings.

“Elke week word net moeiliker en as jy nie nou reg is nie, gaan jy nie teen week 9 van Superrugby gereed wees nie. Daar word ingekoop deur almal om dié naweek ’n groot een te maak.”

Coetzee wil nie verskonings maak nie, maar sê die Lions is so ’n bietjie onkant betrap voor laas week se game teen die Reds. Die Lions het klippe gekou in die skrums en lynstane, maar was steeds goed genoeg om met 27-20 te wen.

“Die reën het ons so ’n bietjie onkant gevang laas naweek, maar elke week dien as ’n stepping stone en ons hoop die son skyn dié naweek.”

Maar wat van sy eie bydrae in laas week se eerste game van die seisoen vir die Lions?

“Ek dink ek kan nog baie verbeter, want laas week was beslis nie my beste game of my slegste een nie,” meen Coetzee.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters