9 dae gelede
Ligte ná 9 jaar nog stukkend
Welkom terug: Warren Isaacs blaf bevele vir sy Bell­ville-Suid-spelers in die Rosina Paarwater-stadion.Foto’s: Peter Abrahams  ~ 

DIE klubrugbyseisoen het verlede week ’n nuwe hupstoot gekry toe SA Rugby die groen lig vir ’n terugkeer na oefensessies gegee het.

Talle klubs was slaggereed toe die grootkoppe die jawoord gee en het al laas week met oefensessies onder die streng Covid-19-regulasies begin.

Elke klub moet ’n Covid compliance officer hê. Dié persoon moet verseker alle papierwerk is ingevul en dat die onderskeie rugbyunies dit ontvang.

Daar is ook streng maatreëls wat gevolg moet word voor, gedurende en ná elke oefensessie.

Klubs mag slegs non-contact-oefeninge doen, soos vir fiksheid en vaardigheid, en spelers moet streng social distancing handhaaf.

Een van die Westelike Provinsie Superliga B se top guns, Bellville-Suid, het met Son gesels.

Dié klub se hoofafrigter, Warren Isaacs, is in sy noppies oor hoe gretig sy troepe by die veld opgedaag het ten spyte van die groot aanpassings vir oefen.

“Ek was baie tevrede met die opkoms,” het Isaacs gesê. “Die getal was so 40 spelers elke aand vir die eerste week en die manne was net bly om terug te wees op die veld.”

Hy voeg by enige speler wat hom by hulle wil aansluit, kan hom gerus by 082 807 3486 kontak.

Regmaak

Isaacs het ook sy ontevredenheid uitgespreek oor die instandhouding van hul tuisveld, die Rosina Paarwater-stadion. Daar is baie wat gefix moet word en dis iets wat ’n klub met Superliga A-aspirasies kan kelder. Die spreiligte is iets wat dadelik aandag sal moet geniet.

“Al wat ek vra, is dat die munisipaliteit ons ligte op die veld moet regmaak,” het Isaacs gesê.

“Ons sukkel nou al nege jaar sonder ligte. Ons het vier spanne wat op een veld oefen en dis moeilik vir ons as coaches. As die winter kom, kan ons net ’n uur oefen, dan is dit donker.”

Klubs wat nog nie ’n Covid compliance officer aangewys het nie, het dié week die riglyne gekry van die bestuur vir WP Klubrugby.

Elke klub moet ’n verantwoordelike persoon aanstel. Hy of sy moet verseker dat iemand die spelers se temperatuur toets en dat die manne sanitise. Alle simptome wat dalk Covid-verwant is, moet ook die beampte se ore bereik en hy of sy sal alle dokumentasie op lêer hou.

Llewellyn Ericksen, All Saints-veteraan, het dié tuig opgetel en is die Somerset-Wes-klub se Covid com­pliance officer.

“Daar is baie papierwerk om te doen,” het Ericksen gesê.

“Dis wel nodig, want ons moet onsself, die spelers en hul families beskerm. Rugby is daar om te geniet en ons is opgewonde om terug op die veld te wees.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters