7 dae gelede
Libbok nou ’n Stormer
Manie Libbok  ~ Gallo Images

DIE Stormers se diepte op losskakel sal vir die United Rugby Championships (URC) aansienlik versterk word deur die veelsydige agterspeler Manie Libbok.

Dié 24-jarige boorling van Humansdorp in die Oos-Kaap het hom soos verwag reeds dié week by die Stormers in die Moederstad aangesluit.

Dié oudleerder van Hoër­skool Daniël Pienaar in Uitenhage en Hoërskool Outeniqua in George was ’n lid van die SA Skole-span in 2015.

In 2016 en 2017 was hy ook ’n uitblinker vir die SA o. 20-span voordat hy vir die OP-Kings, die SWD-Arende, die Bulls en die Sharks uitgedraf het.

Al het Libbok op heelagter vir die Bulls en die Sharks voortreflike spel opgedis, behoort John Dobson, afrigter van die Stormers, die vlug­voetige spelskepper hoofsaaklik as ’n aanvallende losskakel in te span.

Tim Swiel is die enigste ander erkende nr. 10 in die groep.

Die Kapenaars sal voorlangs versterk word met die terugkeer van die uiters talentvolle slot Salmaan Moerat, wat beseer was.

Die 24-jarige Adré Smith, ’n voormalige Blou Bul- en Griekwas-slot wat 2,01 m in sy rugbystewels staan, behoort die Stormers se enjinkamer verder te versterk.

Benewens Libbok het die Kaapse franchise ook Maandag bekend gemaak dat die losvoorspelers Junior Pokomela en Willie Engelbrecht, sowel as die skrumskakel Stefan Ungerer ’n leenooreenkoms vir die URC met die Kaapse franchise aangegaan het.

Atletiese

Pokomela en Ungerer bring albei ervaring van hul betrokkenheid in die Pro14, terwyl Engelbrecht vroeër vanjaar vir die Stormers in die Pro14 Rainbow Cup SA in aksie was.

Die atletiese Pokomela is ’n voormalige SA Skole en Junior Springbok-losvoorspeler wat die afgelope vier jaar vir die Cheetahs gespeel het.

Engelbrecht en Ungerer sluit hulle albei aan vanaf die Pumas, waar hulle beduidende bydraes gelewer het in die onlangse Curriebeker-veldtog.

Engelbrecht is ’n kragtige losvoorspeler, terwyl Ungerer ’n ervare skrumskakel is met beide Superrugby en Pro14-ervaring.

Dobson glo die spelers sal sy span se diepte vir die Stormers se toer van vier wedstryde in Europa versterk.

As alles na plan verloop, durf die Stormers die ver­dedigende Pro14-kampioen, Benetton, Saterdag 25 September in Italië aan.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters