6 dae gelede
Leyds wys hy is pure Bok
SPELSKEPPER: Dillyn Leyds speel tans voortreflike rugby.Foto’s: Gallo Images  ~ 

DIE Springbokafrigter, Rassie Erasmus, kan Dillyn Leyds nie meer ignoreer nie.

Die 26-jarige speler het Suid-Afrika in 2017 – toe Allister Coetzee nog die Bok coach was – in nege toetse verteenwoordig. Sedertdien het hy nie weer vir die Bokke gespeel nie.

Maar ná sy skitterende vertonings tot dusver in vanjaar se Superrugby-reeks gaan dit baie moeilik wees om hom nie vir die Bokke te kies nie.

Geklop

Die veelsydige agter­speler het Vrydag in Melbourne weer uitgeblink in die Stormers se oorwinning van 41-24 oor die Rebels.

Leyds het ’n skitterende drie gedruk nadat hy altesaam ag verdedigers met spoed en vernuf geklop het.

Hiermee saam het hy nog twee van die Kapenaars se vyf drieë geskep.

Robbie Fleck, afrigter van die Stormers, moet beslis dankbaar wees teenoor Leyds. Ná drie treurige nederlae op hulle toer sal dié oorwinning sy span baie selfvertroue gee.

’n Verligte Fleck het agterna gesê: “Ja, dié oorwinning beteken vir ons baie.

“Dit is beslis goed vir ons selfvertroue – veral omdat dit was teen ’n Rebel-span wat tot dusver vanjaar as die beste van die Australiese spanne vertoon het.

“Ons het egter die hele tyd op die toer gedreig, maar dinge het net nie vir ons gebeur nie.”

Saterdag kom die Stormer­s op Nuweland teen die Brumbies te staan.

Die span van Canberra het die Lions Saterdag met 31-20 afgestof.

David Pocock, die bobaasbaljagter, is ook weer fiks. Hy het saam met die span na die Kaap gereis.

Volgens Fleck gaan die Stormers ’n dag vroeër as die Brumbies in die Moederstad aankom. Hulle behoort dus ’n bietjie meer tyd te hê om saam met familie deur te bring voordat hulle vandag weer kliphard begin voorberei vir die game teen die Brumbies.

Jaco Coetzee het ’n kniebesering opgedoen.

Siya Kolisi, kaptein van die Stormers, en Pieter-Steph du Toit behoort weer in aanmerking te kom.

Die Brumbies se toergroep:
VOORSPELERS: Allan Alaalatoa, Rory Arnold, Jahrome Brown, Sam Carter, Tom Cusack, Murray Douglas, Folau Fainga’a, Leslie Leulua’iali’i-Makin, Josh Mann-Rea, Lachlan McCaffrey, David Pocock, Tom Ross, Pete Samu, Scott Sio, James Slipper, Darcy Swain. AGTERSPELERS: Tom Banks, Mack Hansen, Wharenui Hawera, Tevita Kuridrani, Christian Lealiifano, Matt Lucas, Andy Muirhead, Joe Powell, Toni Pulu, Irae Simone, Henry Speight, Tom Wright.


Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters