15 dae gelede
Leyds sê Kolbe toon ‘geen respek vir ou kamermaat’
Cheslin Kolbe.  ~ GETTY IMAGES

CHESLIN Kolbe het “geen respek vir sy ou kamermaat nie – en dít nogal op sy verjaardag”.

Dít is hoe Dillyn Leyds grappenderwys op Twitter gereageer het nadat sy ou Stormers- en Springbok-spanmaat Saterdag twee drieë gedruk het.

Dit was in Kolbe se klub, Toulouse, se oorwinning met 39-23 oor Leyds se klub, La Rochelle, in die Franse Top14-kompetisie.

Die 26-jarige boorling van Kraaifontein het die naweek gewys die geforseerde breek weens die pandemie het nie sy merkwaardige rugby­talent geaffekteer nie.

Leyds het Saterdag sy 28ste verjaardag gevier.

Die boorling van Somerset-Wes het tot dusver in 65 games vir die Stormers en 10 toetse vir die Bokke gespeel.

Gevang

Daarteenoor het Kolbe 49 keer vir die Kaapse franchise uitgedraf en die Bokke in 14 toetse verteenwoordig.

Kolbe het op Leyds se twiet gereageer met: “Lief vir jou, my kamermaat. Nooit maklik om teen jou te speel nie.”

Veral sy tweede vyfpunter het die oog gevang.

Kolbe, wat die nr. 11-trui gedra het, het die bal op die regtervleuel ontvang.

Die blitsbuks het drie keer na die binnekant afgetrap en die verdediging aan flarde geskeur voordat hy ’n fantastiese drie onder die pale gedruk het.

Dit is dié kenmerkende voetwerk wat Kolbe volgende jaar graag vir die Springbokke wil uithaal teen die Britse en Ierse Leeus.

Kolbe bestempel volgende jaar se Leeus-toer in Suid-Afrika as ’n “ongelooflike geleentheid.

Atmosfeer

“Ek het dit in 2009 gekyk en sedertdien het ek myself vertel ek wil beslis deel wees daarvan,” het hy aan RugbyPass gesê.

“Om die atmosfeer te ervaar; die volgepakte sta­dions; die tyd wat belê word in die Britse en Ierse Leeus – dis wonderlik.

“Ek sal baie graag in daardie drie toetse wil speel.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters