Verlede jaar
Lerena se vuis jeuk
LAFENIS: Die afrigter Peter Smith gee Kevin Lerena ’n sluk water tydens ’n strawwe oefensessie.Foto: GALLO IMAGES  ~ 

KEVIN Lerena sê sy “vuiste jeuk” om Sefer Seferi van Albanië Saterdagaand by Emperors Palace uit te slaan.

Lerena verdedig dan sy IBO-tussengewigtitel die vyfde keer op Rodney Berman se toernooi genaamd Fists of Steel.

Die 27-jarige Suid-Afrikaner vind dit vreemd dat Seferi (40) se kamp sê hy is te jonk.

“Te jonk? Ek is al baie dinge in my lewe genoem, maar nog nooit dat ek te jonk is nie,” sê Lerena.

Seferi-hulle se aanmerking beteken dat hulle die geveg gaan wen, maar Lerena het ander planne.

“Ek gaan beslis vir ’n KO. Ek sal Sefer eers goed deurkyk en dan die afrondingswerk doen.”

Lerena kan vir 36 minute se werk bykans R1 miljoen verdien.

Dis egter te twyfelagtig of die geveg 12 rondes sal duur.

Seferi is geen maklike teenstander nie.

Hy is eintlik ’n swaargewig wat nou ’n afdeling afgeskuif het.

Hy het die groot Brit Tyson Fury in Junie verlede jaar ’n hele paar opstoppers gegee voordat hy die knie moes buig.

Dit spreek boekdele vir sy slaankrag dat hy 21 teenstanders in sy 23 oorwinnings uitgeslaan het.

Hy kan dus allermins onderskat word.

Dit sal ’n goeie oorwinning vir Lerena wees as hy dié een by sy rekord kan voeg.

Lerena het net een geveg uit 24 verloor. Dit was teen Johnny Muller in 2014 toe Lerena uiters lusteloos voorgekom het.

Die geveg is van 19:00 op SuperSport 8 te sien.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters