8 dae gelede
Lerena kry groot kans
ROEM WINK: Kevin Lerena betree nou die gróót arena. Foto: GOLDEN GLOVES  ~ 

DIE bokser Kevin Lerena gee binnekort ’n groot tree daartoe om die wêreld se tussen­gewigafdeling te verenig.

Die Internasionale Boks­federasie (IBF) het opdrag gegee dat die Rus Yuri Ka­shinsky en Lerena mekaar in ’n uitdungeveg moet pak.

Die promotor, Rodney Berman, sê die geveg sal op 21 September of 30 November plaasvind.

Berman sê: “Omdat ek oortuig is daarvan dat nie een van die kampe ’n ooreenkoms sal bereik nie, het ek gevra dat ons ’n geheime bod (purse bid) maak.

“My groot doel is om die geveg by Emperors Palace aan te bied. Dis ’n groot geveg vir Kevin. Ons móét die bod wen.”

Dié kragmeting sal loshande Lerena se vernaamste en taaiste van sy loopbaan tot dusver wees.

Kashinsky is na 18 gevegte onoorwonne. Hy het 16 van sy teenstanders uitgeslaan.

Lerena het 23 van sy 24 gevegte gewen. Sy enigste nederlaag was in 2014 met punte teen Johnny Muller.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters