9 dae gelede
Leo is vasbeslote
LAAT WAAI! Leo Williams wil saam met sy spanmaat, Mthokozisi Mdingi, in die strandvlugbal vir die Olimpiese Spele in Tokio kwalifiseer.  ~ Foto Verskaf

LEO Williams en Mthokozisi Mdingi, sy spanmaat, is vasbeslote om in strandvlugbal vir die Olimpiese Spele in Tokio te kwalifiseer.

Die 35-jarige Williams het tot dusver oor die jare waardevolle ervaring op die strande in Suid-Afrika en elders in die wêreld opgedoen.

Die voormalige Kapenaar woon deesdae in Tsjeggië, van waar hy aan die toernooie in Europa deelneem.

Williams het saam met verskillende spanmaats al verskeie kere van die meer er­vare deelnemers in die wêreld geskok en vir ’n paar opskuddings gesorg.

Hy verduidelik: “Ons gaan op 20 Junie in Marokko ons kwalifiseringswedstryde speel. Dit is die dag waarop ons sal weet of ons Tokio toe gaan of nie.

“Weens Covid-19 is alles vir ’n jaar uitgestel.

“Om eerlik te wees, was ons nie laas jaar in goeie shape nie.

“Net soos almal moes ons by die huis oefen. Ons was nie vir die sand gekondisioneer nie.

Kwarantyn

“Ons is egter nou in baie beter shape.

“Ek is hoopvol dat ek en my partner, Mthokozisi Mdingi, Marokko toe kan gaan om ’n oorwinning te kry en vir die Spele kan kwalifiseer.

“Daar is tans ’n delay vir hom om hiernatoe te kom. Omdat hy van Suid-Afrika af kom, moet hy vir sowat 14 dae in kwarantyn gaan omdat die Europeërs baie skrikkerig is vir mense wat van Suid-Afrika af kom met die nuwe variant van die virus.”

Williams spog met ’n graad in ekonomie wat hy aan die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK) verwerf het. Sy spanmaat, Mdingi, is ook by die UWK.

In Marokko gaan hulle teen deelnemers van lande soos Ghana, Soedan en Tanzanië te staan kom.

Hulle sal ál hierdie lande moet klop om vir die Spele te kwalifiseer.

“Ja, ons doelwit is om vir die Olimpiese Spele te kwalifiseer,” sê Williams.

“Ons het nog altyd geglo ons kan dit doen. Ons het dit in 2012 reggekry.

Druk

“Ons wil sterk wees en ons nasie trots maak.

“Ons lewe vir daai moei­like oomblikke wanneer ons onder druk geplaas word.

“Wanneer jy passievol is, is dit beslis moontlik. Vanjaar was die eerste keer dat die span reg voorberei is.

“Ons wil baie graag ons vaardighede ten toon stel en ek is vol vertroue dat ons ons doelwit kan bereik.

“Ons moet net op die dag execute.

“Ek dink regtig ons kan dut doen,” voeg hy by.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters