Verlede maand
Lekker om ’n Crusader te wees
DUNEDIN, NEW ZEALAND - FEBRUARY 26: Sevu Reece of
DRIE OF NIE? Sevu Reece druk vir die Crusaders.  ~ Getty Images

DAAR is verwag dat die Crusaders in Vrydag se openingswedstryd van Superrugby Aotearoa sou wen.

Maar sjoe! As kritieke beslissings ook maar heeltyd in jou guns val, dan is daar mos geen manier hoe jy kan verloor nie.

Hiermee bedoel ek nou nie die verdedigende kampioene het nie verdien om die Highlanders in Dunedin met 26-13 te klop nie. Hulle is waardige wenners van dié stryd, want soos daar nou al gereeld oor Scott “Razor” Robertson gesê is, vat hulle hul kanse om punte aan te teken wanneer geleenthede opduik.

Daar sal egter teruggekyk moet word na ’n voorval vroeg in dié kragmeting toe die Crusaders-stut Joe Moody ’n Highlanders-speler met die voorarm in die gesig geslaan het.

Moody het ook nie daar opgehou nie – hy het dit verder gevat deur Jack Regan ook met ’n oop hand teen die agterkant van die kop te slaan.

In baie ander wedstryde word sulke soort oortredings gewoonlik deur die skeidsregter summier met ’n rooi kaart gestraf. Ben O’Keeffe (skeidsregter) het egter ná verskeie kykweers op die big screen TV-monitor binne-in die Forsyth Barr-stadion besluit ’n waarskuwing en strafskop wat aan die Highlanders toegeken is, is genoeg straf.

Dit is so dat rooi kaarte ’n wedstyd behoorlik kan spoil as een span vir die res van die kragmeting met een speler minder op die veld moet klaarkom. Die reëls bly egter die reëls, so dit sal baie rugbyliefhebbers verwar dat Moody nie eens met ten minste ’n geel kaart vir 10 minute sondestoel toe gestuur is nie.

Miskien was dit in die agterkop van O’Keeffe, sy assistentskeidsregters en TV-skeidsregter dat dit die openingswedstryd van Superrugby is, en ’n groot straf sou die hele affêre as ’n volwaardige tweestryd bederf.

Soos die noodlot dit wou hê, was dit ná dié voorval die Crusaders wat eerste bloed sou ruik toe die besoekers met ’n aanvallende beweging in hul helfte begin het en die haker Codie Taylor amper 40 m genael het om onder die pale af te rond.

Die voorsprong was sommer gou 14-0 toe Bryn Hall nog ’n aanval afgerond het wat naby die halfgebied begin is, met Richie Mo’unga wat albei drieë sou vervyf.

Die Highlanders, wat vanjaar deur Tony Brown afgerig word, het egter groot veggees getoon deur met volgehoue druk twee drieë van hul eie te gaan druk om met 10-14 teen rustyd te gaan water drink. Shannon Frizell en Connor Garden-Bachop het vir die tuisspan afgerond.

Met die terugkeer na die veld is die agterstand tot net een punt gesny toe Mitchell Hunt met ’n strafdoelpoging pale toe sou slaag.

In tipiese Crusaders fashion het die besoekers vir hul geleentheid gewag om weer in goeie aanvallende posisies te kom. Sevu Reece sou hierdie keer in die linkerhoek gaan afrond, maar daar sal ook na dié drie gekyk moet word in analise as ’n omstrede beslissing deur O’Keeffe en sy medewedstrydbeamptes.

O’Keeffe het dié drie toegeken, maar dit het duidelik gelyk asof Reece in die proses van die bal druk, dit verloor het, terwyl sy voet ook op die kantlyn was.

Die Highlanders moet egter ook die blaam dra nadat hulle nie geleenthede benut het om punte aan te teken nie. Daar was sommer oorgenoeg sulke kanse vir die tuisspan, maar onnodige foutjies en verkeerde besluitneming het die deur oopgelaat vir die Crusaders om die finale sê te hê. ’n Drie vanaf ’n rolmaalbeweging deur Brodie McAlister het die oorwinning buite die bereik van die Highlanders geplaas.

Puntemakers:

HIGHLANDERS -  drieë: Shannon Frizell, Connor Garden-Bachop; strafdoel: Mitchell Hunt

CRUSADERSdrieë: Codie Taylor, Bryn Hall, Sevu Reece, Brodie McAlister; doelskoppe: Richie Mo’unga (3)


Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters