Verlede maand
Lang kolfstert kan lol
ONVERVULDE TALENT: Kagiso Rabada het wel die vermoë om met die kolf uit te blink.  ~ _GETTY IMAGES

DIE Proteas se lang kolfstert is ’n bron van kommer aan die vooraand van die T20-Wêreldbeker-toernooi wat môre in die Verenigde Arabiese Emirate begin.

Sedert AB de Villiers, JP Duminy en Faf du Plessis uitgetree het, is daar net nie meer slaankrag in die SA span se middelorde nie.

Daar kan verwag word dat die kwartet van Kagiso Rabada, Anrich Nortjé, Lungi Ngidi en Tabraiz Shamsi op nommers 8 tot 11 vir die Proteas in die T20-WB-toernooi gaan kolf.

Dit het ’n ellelange kolfstert tot gevolg wat onder normale omstandighede, of met ’n meer gedugte middelorde, nie eintlik ’n probleem behoort te wees nie.

Suid-Afrika se gesukkel met die kolf in alle vorme van krieket die laaste paar jaar, beteken dat die viertal gereeld ’n rol het om met die wilgerlat te vertoon.

Rabada het in sy internasionale loopbaan, wat reeds oor sewe jaar strek, nog altyd oomblikke getoon van sy skynbare kolftalent. Hy kon dit egter oor die jare nog nooit vervul nie. Hy het ál die houe in die boek en lyk goed, veral in toetskrieket, maar hy is waarskynlik die eerste wat sal erken dat nr. 8 in dié stadium dalk een, en selfs twee, plekke te hoog vir hom in die kolforde is.

Nortjé, daarenteen, het reeds bewys dat hy ’n baie handige naguiltjie is in toetskrieket en ’n deeglike tegniek het, veral op die verdediging.

Vermoëns

Of hy egter die grenstoue kan oorsteek wanneer die situasie dit verlang, moet nog gesien word.

Oor Ngidi en Shamsi se vermoëns as kolwers kan daar nie veel gesê word nie.

Jy kan liewer maar net hoop dat daar nie van hulle verwag word om enige noemenswaardige rol met die kolf te speel tydens die krieketskouspel in die Midde-Ooste wat dié naweek begin nie.

Die Proteas speel volgende Saterdag teen Australië in hul openingswedstryd in Abu Dhabi.

Hopelik sal kolwers, soos Temba Bavuma, Quinton de Kock, Aiden Markram, Rassie van der Dussen, David Miller en veelsydige manne soos Wiaan Mulder en Dwaine Pretorius hul rol goed vervul en nie verwag dat die boulers sake moet red nie.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters