5 dae gelede
Kyle kry nou kans
Kyle Verreynne  ~ Gallo Images

DIE Proteas het deesdae geen slaankrag in hul middelorde nie. Dit is grootliks weens die uittrede van AB de Villiers en JP Duminy, asook die afwesigheid van Faf du Plessis in dié uitsoekgroep.

Dié trio was vir die grootste deel van die vorige dekade saam met Ha­shim Amla die ruggraat van die Suid-Afrikaanse span se kolfbeurt.

Belangriker

David Miller is deesdae die enigste middelkolwer van die Proteas met noemenswaardige internasionale witbalkrieket-ervaring onder die belt.

Wat hom deesdae nóg belangriker maak, is die feit dat hy die vermoë het om die grenstou gereeld op te soek en sy lopies teen ’n hoë treftempo aan te teken.

Kyle Verreynne, hoog aangeskrewe middelorde-kolwer en paaltjiewagter van die Westelike Provinsie, kan egter vir homself ’n meer permanente plek in die ODI-groep losspeel wanneer hy van môre af teen Nederland in ’n eendagreeks in Centurion speel.

Daar is in die verlede vrae gevra oor Verreynne se kragspel en of hy die grenstoue kan opsoek wanneer dit aan die einde van die kolfbeurt benodig word.

Die 24-jarige Verreynne sê hy werk hard aan daardie aspek van sy spel.

“Krag-kolfwerk is iets wat ek, die afrigters en die keurders al in die verlede bespreek het,” het hy gister gesê.

“Ek dink nie ek het ooit nié die vermoë gehad om groot houe te slaan nie. Dit gaan meer daaroor om ’n paar bykomende opsies te hê.

“Ek het myself nog altyd beskou as iemand wat vrylik grenshoue kan aanteken. Dit is belangrik om te verstaan dat jou grenshou-opsies nie altyd so vrylik beskikbaar is soos in plaaslike krieket nie.”

Intussen moes die naatboulers Lizaad Williams en Lungi Ngidi hulle aan die groep onttrek. Junior Dala het hom dus nou by die groep aangesluit.

DIE PROTEAS SE SPAN:

Keshav Maharaj (kaptein), Junior Dala, Daryn Dupavillon, Zubayr Hamza, Reeza Hendricks, Sisanda Magala, Janneman Malan, David Miller, Dwaine Preto­rius, Andile Phehlukwayo, Wayne Parnell, Ryan Rickelton, Tabraiz Shamsi, Kyle Verreynne, Khaya Zondo.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters