3 maande gelede
KYK: Son-boek nou op die rakke
TROTS: Dale Santon spog met Son se Sportlegendes.  ~ Adnaan Mohamed

DALE Santon glo dit is uiters belangrik dat mense meer moet weet van voormalige sporthelde wat nie altyd die erkenning gekry het wat hulle verdien het nie.

Volgens die voormalige Springbok-haker is hy ongelooflik geëerd om een van die meer as 40 sportpersoonlikhede te wees wat in Son se boek Sportlegendes verskyn.

Opgewonde

Die boek is van Vrydag by uitgesoekte takke van Shoprite, Checkers, OK Foods en Spar op die rakke.

’n Opgewonde Santon het gister aan Son gesê:

“Ja, ek glo dit is beslis ’n boek wat gekoop móét word.

“Ek voel geëerd en nederig om my naam en my storie in die boek te hê saam met dié van ander sport­legendes. Dit is maar net ’n drop in die oseaan omdat ek glo daar is dalk nog honderde wat verdien om in so ’n boek te wees.

“Wanneer jy somtyds jou stories vertel, vergeet jy gewoonlik van mense wat jou gebring het tot waar jy is.

“ ’n Ou soos Irfaan Slamdien is iemand wat ongelooflik baie vir my gedoen het. Ek dink nie ek sou so ver in klubrugby gekom het as dit nie vir hom was nie.

“Hy’t alles vir my gekoop wat ek benodig het. Dit is die soort stories wat in die boek vertel word.

“Nie enige van die legendes se paaie was maklik om bo uit te kom nie. Daar was altyd struikelblokke. Soos hulle in Engels sê, die goal posts is maar altyd vir ons almal geskuif.”

Santon glo Son doen ’n groot eer aan die sporthelde om hul unieke stories in die boek saam te vat.

“Toe ek die boek op die rakke sien, het ek sommer dadelik 10 (kopieë) gekoop. Ek hoop die ander mense in die boek koop óók 10.

“Ek het dit sommer uitgedeel aan die familie.

“Wanneer ons nie meer eendag daar is nie, het hulle ten minste nog ’n storie waaraan hulle kan vasklou. Hulle sal dan kan sê: ‘Kyk wat het my pa, my oupa, my oom, my broer of my suster achieve.’

Biblioteek

“Daar is honderde en dalk nog duisende forgotten heroes­ wat nie ’n platform het om hul stories te kan vertel nie.

“Ek dink dié boek is die begin van groot dinge. Dit is belangrik dat ons geskiedenis vir ons nageslagte opgeneem is.

“ ’n Boek soos dié moet in die biblioteek en in skole gaan sodat mense kan weet dat daar sportlui is wat baie goed opgeoffer het in die apartheidsjare.

“Hulle het egter steeds teen ál die odds bo uitgekom,” laat Santon hoor.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters