12 dae gelede
KYK: Skool vereer helde
ONSE MANNE: Wilfred Williams, Melville Lawrence (skoolhoof), Maria Williams, Diana Linee en Peter de Villiers bregh met die toekennings.  ~ Marco Walters

NEDERBURG Primêr het sy Springbok-helde verlede week vereer.

Wyle Chester Williams en Tinus Linee, asook Chester se oom Avril en die voormalige Springbok-afrigter Peter de Villiers is op ’n plegtigheid by dié skool in Lantana, Paarl-Oos, vereer.

Paarl-Oos is berug vir die negatiewe effek van armoede en werkloosheid daar.

Juis daarom moet die helde vereer word, want hulle kan positiewe rolmodelle vir die jeug wees.

Die opvoeders van Nederburg Primêr was uitgedos in die Groen-en-goud.

Chester en Tinus se weduwees, Maria en Diana, het hulle ontslape eggenote se toekennings ontvang. Chester se pa, Wilfred, het sy broer Avril s’n namens hom ontvang.

’n Banier met die vier helde se foto’s daarop is in die voorportaal van die hoofgebou onthul.

De Villiers het vertel dit het destyds “baie sleg gegaan in Lantana”. Maria het beloof om Chester se nalatenskap te eerbiedig deur terug te gee aan die gemeenskap waarvoor hy so lief was.

Sy het gesê: “Ek wil julle graag bedank vir die rol wat julle hier (by die skool) in Chester se lewe gespeel het.

“Sy jare hier was waarskynlik die beste van sy lewe en hy het altyd teruggekom om terug te ploeg.

De Villiers het gesê: “Ek was geseënd met mense wat my gevorm het.

“Lantana was nie altyd die beste plek om te wees nie. Ons was wel bevoorreg om deur great ouens afgerig te word.”

Hy het vertel dat hy een dag vir sy ma gesê het hy sal eendag ’n Springbok word. Sy ma het egter aan hom gesê die Springbok-trui is net vir wit mense bedoel.

Hy antwoord toe: “As ek dan nie vir hulle kan speel nie, gaan ek hulle eendag afrig.”

De Villiers het die Springbokke van 2008 tot 2011 afgerig.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters