Verlede maand
KYK: Siya en Nama sit uit
Siya Kolisi.  ~ Gallo Images

DIE diepte van die Stormers se losvoorspelers gaan Saterdag teen die Bulls op Loftus Vers­feld in Pretoria behoorlik op die proef gestel word.

Dít kom nadat John Dobson, afrigter van die Stormers, bevestig het sy voorste twee baljagters – die kaptein, Siya Kolisi, en sy plaasvervanger Nama Xaba – gaan die Superrugby Unlocked-kragmeting met die aartsvyand in die Jakarandastad misloop.

Dobson het gister in ’n aanlyn konferensie gesê: “Ja, dis beslis ’n groot terugslag om Siya én Nama gelyktydig te verloor.

“Siya se dyspierbesering is nie so ernstig soos aanvanklik gedink is nie. Dit is ’n graad 1-skeur. Hy behoort twee tot drie weke buite aksie te wees.

“Nama het ’n enkelbesering opgedoen en moes gister vir ’n skandering gaan.

“Jaco Coetzee is ’n opsie vir die nr. 6-trui. Ek dink hy het goed gevaar toe hy opgekom het.”

Pieter-Steph du Toit sukkel nog met ’n senuwee in sy knie wat pla.

Volgens Dobson gaan laas jaar se wêreldspeler van die jaar nie weer vanjaar op ’n rugbyveld in aksie gesien word nie.

Sy broer, Johan du Toit, is ook nog op die krukkelys.

Dobson is nou genoop om losvoorspelers soos BJ Dixon en Marcel Theunissen, wat Sondag vir die WP se o. 21-span uitgedraf het, by die senior span te betrek.

Damian Willemse het die game teen die Pumas met ’n lam boud misgeloop. In sy afwesigheid het Tim Swiel met ál sy skoppe geslaag.

Dobson glo egter dit sal onregverdig teenoor Willemse wees om hom te drop.

“Tim het goed geskop. Dit (die losskakel-posisie) is debatteerbaar, maar ek is baie gretig om Damian deur dié game te kry.

“Benewens Herschel Jantjies sit ons met ’n nuwe backline. Ons wil die nuwe spelers ’n kans gee om te gel.”

Die Stormers-breier glo die Bulls is nou sterker as wat hulle voor die lockdown was.

Fisiek

“Hulle speel meer direkte rugby onder Jake White as wat hulle onder vorige afrigters soos John Mitchell en Pote Human gespeel het.

“Dit is in hul DNS om direk en fisiek te speel. Rugby gaan oor momentum.

“Ons het dit nie op die oomblik met die manier hoe ons speel nie. Hulle is tans op dreef.

“Ek dink hy (White) verdien lof, maar ons sal gou ons eie sake moet regstel,” het Dobson gewaarsku.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters