2 maande gelede
Kwotas is ’n realiteit
SIYA KOLISIFoto: gallo Images  ~ 

SIYA Kolisi het onlangs ’n baie interessante stelling gemaak wat ’n uiters belangrike aspek van Suid-Afrikaanse rugby aanraak.

Die Springbok-kaptein het in ’n onderhoud gesê hy wil nie op grond van sy velkleur vir die Bokke gekies word nie.

Hy sê hy dink ook nie die voormalige president Nelson Mandela sou die kwotastelsel in Suid-Afrika ondersteun het nie.

Kolisi het met Kyodo News in Japan gepraat in sy hoedanigheid as ambassadeur vir Panasonic.

Kolisi het laas jaar die eerste swart man in die geskiedenis van SA rugby geword wat die Bokke tot nog toe in ’n toets aangevoer het.

Hy is gevra hoe Madiba sou gereageer het op die idee van teikens vir transformasie in nasionale spanne.

“Ek dink nie hy sou dit ondersteun het nie, maar ek ken hom nie,” het Kolisi gesê.

“Jy moenie ’n nommer op sulke dinge plaas nie.

“Wanneer jy oor transformasie praat, moet jy daar (op voetsoolvlak) begin.

“Stel jou voor as ek nie na ’n Engelse skool gegaan het nie, sou ek nie behoorlik geëet het en gegroei het nie.

“Ek sou ook nie dieselfde voorbereiding gehad het wat ander seuns gekry het nie.

“Dis moeilik. Miskien kan jy ouens in die Currie Cup ’n kans gee om te sien of hulle die mas sal kan opkom. Maar jy kan nie iemand oor sy velkleur vir die Bokspan kies nie.

“In Suid-Afrika is dit moeilik omdat ons wil transformeer en wil terselfdertyd goeie uitslae hê.

“Die talent is daar, dit moet net reg gekoester word. Ek wil nie gekies word as gevolg van my velkleur nie. Dit sal sekerlik nie goed vir die span wees nie. Die ander spelers om jou sal ook weet dat jy nie daar op meriete is nie.”

Ek stem heeltemal saam met Kolisi dat spelers die span op meriete moet haal.

Die realiteit in Suid-Afrika is egter dat Springbok-spanne reeds etlike jare al volgens velkleur gekies word.

Al was daar honderde swart spelers wat die Bok-span op meriete kon haal, was die Bok-span maar altyd net wit spelers beskore.

Die ironie van Kolisi se stelling is egter dat as dit nie vir die kwotastelsel was nie, sou die wêreld nooit legendes soos ’n Chester Williams, Breyton Paulse en Bryan­ Habana gesien het nie.

Paulse het die Bokke in 64 toetse verteenwoordig, terwyl Habana ’n allemintige 124 keer die Groen-en-goud oor sy kop getrek het.

Sedert 2008 het die stut Beast Mtwarira 107 toetse gespeel.

As die SA Rugbyunie nie gedwing is om dié uiters talentvolle spelers ’n kans te gee nie, sou hulle nooit sulke besonderse mylpale behaal het nie.

Dieselfde geld die huidige groep swart Springbokke soos Aphiwe Dyantyi, S’bu Nkosi, Lukhanyo Am en Kolisi self.

Dit is as gevolg van die kwotastelsel dat hulle hul staal kon wys.

Dit is hartseer om te dink dat daar steeds ’n persepsie is dat swart spelers die Bok-span verswak.

Al wat vir my saak maak, is dat as die speler goed genoeg is, moet hy gekies word. Dit is so eenvoudig soos dit.

Wat dink jy?

Stuur gerus jou mening per e-pos na amohamed@media24.com.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters