6 dae gelede
Kurt se magic is ’n troef
slim: Kurt Lentjies se beste voordeel is sy brein.Foto: gallo images  ~ 

KAN Kurt Lentjies se “football brain” die verskil wees vir die Chilli Boys Sondag in die Nelson­ Mandelabaai-stadion wanneer Highlands Park besoek aflê?

Die Chilli Boys keer terug huis toe ná hulle 2-3-nederlaag verlede week teen Black Leopards in die Thohoyandou-stadion.

Chippa het nie sleg gespeel nie en was effe ongelukkig in daardie wedstryd, maar volgens die Chippa-breier, Clinton Larsen, was daar een ding missing – Kurt Lentjies.

“Kurt Lentjies se football brain is iets wat ons gemis het in daardie wedstryd,” sê hy.

Lentjies was beseer voor die wedstryd, maar het dié week weer saam met die span geoefen en volgens Larsen kan hy die verskil wees tussen ’n oorwinning of nederlaag.

“Dit gaan nie net oor Lentjies se ervaring en energie nie. Sy posisionering wanneer die span tussen die aanval en verdediging skuif, is besonders en dis iets wat ons teen Leopards gemis het – veral in die tweede helfte van daardie wedstryd.”

Larsen meen dat die groep meer as genoeg spelers het om in te staan vir Lentjies. Hy het manne soos Mark Mayambela, Ruzaigh Gamildien en Daine Klate tot sy beskikking.

Die spelers is goed en het hope ervaring, maar dis duidelik dat die 34-jarige Lentjies baie meer van ’n impak op wedstryde maak.

Dié voormalige Maritzburg United-speler het sover dié seisoen 23 wedstryde vir Chippa gespeel in alle kompetisies. Hy het drie doele aangeteken en die aanvoorwerk vir twee gedoen.

Dit alleen wys hoe belangrik sy teenwoordigheid in die span is dié seisoen.

Die breier meen ook dat die tuisvoordeel weer iets is wat die span gaan aanspoor.

“Ons speel weer tuis. Die spelers geniet dit en die skare bring altyd die beste in hulle uit.”

Chippa het sover dié jaar nog net twee keer in die Sisa Dukashe-stadion (hul tweede tuiste) verloor.

In die Nelson Mandelabaai-stadion is die Chilli Boys egter onoorwonne en Larsen sê hy en die span is vol moed dat hulle dit so gaan hou.

Die wedstryd begin 15:30.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters