11 dae gelede
KSA soek binnekort weer hoof
Jacques Faul  ~ Gallo Images

DAAR is talle aanduidings dat dr. Jacques Faul se tweede termyn as waarnemende uitvoerende hoof van Krieket Suid-Afrika (KSA) volgende maand tot ’n einde sal kom.

Die laaste paar dae word daar gegis dat Faul die KSA reeds in kennis gestel het van sy voornemens om die organisasie einde vol­gende maand te verlaat.

Faul neem as CEO waar sedert Thabang Moroe in Desember weens wanadministrasie geskors is. Hy het ook in 2012 as die KSA se CEO waargeneem nadat Gerald Majola weens die 2009 IPL-bonusskandaal afgedank is.

Son het die KSA gister om kommentaar genader.

’n Woordvoerder het laat weet: “Dr. Faul is oorspronklik vir ’n periode van ses maande deur die KSA gekontrakteer en dis aan die einde van Junie met nóg drie maande verleng. Hierdie periode eindig dus in September.”

Tamaai

Daar word verwag dat Faul dan sy posisie as uitvoerende hoof van die Titans sal hervat.

Dit laat die KSA in ’n nuwe penarie. Moroe se forensiese ondersoek is stééds nie afgehandel nie, al ontvang hy stééds heeltyd sy tamaai groot salaris. Daar word beweer dat dit sowat R350 000 per maand is.

Thabang Moroe

Die KSA kan allermins bekostig om weer iemand in ’n tydelike hoedanigheid aan te stel en die bevoegde Faul se vertrek kan as ’n gevoelige slag beskou word.

Die KSA het verlede week in ’n verklaring gesê die direksie het die eerste deel van die forensiese verslag oor krieket se sake en Moroe se dispuut ontvang.

Daar is egter nog geen woord oor die inhoud van die verslag gerep nie.

Krieket Suid-Afrika het wel in ’n verklaring laat hoor: “Met die gebruik van hierdie verslag as vertrekpunt, het die direksie ’n proses geïmplementeer wat finaliteit na die ongelukkige situasie sal bring.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters