13 dae gelede
KSA ’n sirkus
Graeme Smith  ~ Gallo Images

DIE beheer van krieket in Suid-Afrika is in ’n krisis gedompel, maar Krieket Suid-Afrika (KSA) se ringkoppe wil niks daarvan hoor nie.

Boonop heers daar ’n Babelse verwarring oor die voormalige Protea-kaptein Graeme Smith se belangstelling in die pos as die nuwe nasionale direkteur van krieket.

Tony Irish, die uitgaande CEO van die nasionale krieketspelersvereniging, Saca, het die nuutste verwikkelinge as ’n “sorry state of affairs” bestempel.

Dis nadat talle joernaliste se akkreditasie die naweek teruggetrek is.

Smith stel na bewering weer belang in dié pos nadat hy sy aansoek vroeër onttrek het.

Thabang Moroe, uitvoerende hoof van KSA, het gister lig gewerp op waarom daar gesloer word om die pos te vul.

Hy het ook bevestig dat hy Smith persoonlik genader het om vir die pos aansoek te doen.

Daar word verneem dat ontevredenheid nou onder KSA se ampsdraers heers omdat Smith na bewering deur die media oor die pos kommunikeer.

Moroe sê hy het vroeër ook gesê KSA wil seker maak hy doen die regte aanstelling – dís waarom hulle sloer om die pos te vul.

KSA se besluit om sy visier op krieketskrywers te rig, het die verwarring wat tans in die organisasie heers, verder laat verdiep.

KSA word wyd gekritiseer daarvoor nadat hy vyf joernaliste se akkreditasie die naweek teruggetrek het.

Die beheerliggaam het gister ’n verklaring uitgereik waarin hy sy optrede regverdig.

Hy sê hy sal nou met die redakteurs van mediamaatskappye vergader om sy omstrede besluite aan hulle te verduidelik.

Die situasie het ’n groot verleentheid vir KSA geword omdat een van die joernaliste, Neil Manthorp, as ’n kommentator vir die Mzansi Superliga se uitsaaivennoot SABC gekontrakteer is.

Manthorp moes ’n kaartjie koop om die stadion te betree.

Vyand

Die Suid-Afrikaanse Nasionale Redakteursforum (Sanef) het ook in die bres getree vir die betrokke joernaliste.

KSA glo die joernaliste “publiseer nie die waarheid” nie. Dit blyk KSA is sy eie grootste vyand omdat hy nie openlik met die media kommunikeer nie.

Daar is nog geen uitsluitsel oor die skorsing van Corrie van Zyl, waarnemende direkteur van krieket, Naasei Appiah, hoofbedryfsbeampte, en Clive Eksteen, handelsbestuurder, nie. Hulle tugverhore word blykbaar binnekort afgehandel.

Hulle word aangekla van pligsversuim omdat geld van die eerste Mzansi Superliga na bewering nie aan Saca betaal is nie.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters