20 dae gelede
KSA gooi nuwe CEO onder die bus
Kugandrie Govender  ~ Gallo Images

KRIEKET Suid-Afrika (KSA) het sy nuwe uitvoerende hoof, Kugandrie Govender, onder die bus gegooi deur vandeesweek te sê hy verwerp haar stelling dat KSA voortaan net swart konsultante gaan gebruik.

Govender, wat as uitvoerende hoof waarneem sedert Jacques Faul se bedanking en Thabang Moroe se afdanking, is verlede week deur verskeie publikasies aangehaal waarin sy gesê het KSA is van plan om voortaan nie meer wit konsultante te gebruik nie.

Sy het aan ESPNcricinfo gesê slegs in gevalle waar daar ’n “bepaalde vaardigheid is wat net ’n wit konsultant KSA kan bied, sal ons dit natuurlik gebruik.

“Dit is ’n interne maatstaf vir ons om onsself te kontroleer, want daar was voorheen geen maatstaf nie en mense het gedoen net wat hulle wou doen.”

Hartseer

Die Instituut vir Rasseverhoudinge (IRR) en AfriForum het gereageer met dreigemente van regstappe.

Daar is blykbaar ook skrywes aan die Internasionale Krieketraad (ICC) gerig wat reeds in die verlede gewys het hy duld nie politieke inmenging in nasionale krieketfederasies nie.

KSA sê toe Dinsdag in ’n verklaring: “Ons het met groot hartseer kennis geneem van die onlangse mediaberigte oor die organisasie se standpunt oor transformasie en met spesifieke verwysing na die gebruik van konsultante en veral wit konsultante.

“Hoewel ons die opinies respekteer wat tans in die openbare domein gelug word, insluitend die media­berigte wat steeds aan hierdie kwessie aandag gee, wil ons bevestig dat KSA nie besluit het om uitsluitlik met swart konsultante saam te werk nie. Hierdie stories is feitelik verkeerd.

“Die mediaberigte rondom die uitsprake van ons waarnemende uitvoerende hoof is nie ’n korrekte weergawe van die sentiment wat KSA wou oordra nie.”

Dis egter onwaarskynlik dat Govender, skaars drie weke in die waarnemende rol, sulke uitsprake in die media sal maak sonder ’n mandaat, veral nadat KSA ’n vergadering met die departement van sport oor transformasie gehad het.

Govender is dus summier onder die bus gegooi.

KSA het Dinsdag ook die aanstelling van Dillon du Preez as hulpafrigter bekend gemaak. Du Preez, ’n wit man, vervang Salieg Nackerdien, ’n bruin man, wie se kontrak nie hernu is nie.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters