10 dae gelede
Krieketmark besig
VAARWEL, BLOEM: Keegan Petersen is op pad na die Dolphins.  ~ Gallo Images

DIT wil lyk of dit happy hour in die plaaslike krieketmark is.

Verskeie spelers verlaat hulle huidige franchise.

Veral die twee noordelike franchises, die Titans en die Lions, was baie besig met werwing toe die seisoen weens die corona-virus tot halt geroep is.

Die Lions het reeds die dienste bekom van Tladi Bokako (Cape Cobras), Wesley Marshall (Titans) en die Warrior-snelboulers Sisa­nda Magala en Lutho Sipa­mla.

Skuif

Die Cobras verloor ook die dienste van die belowende snelboulers Lizaad Williams en Thando Ntini. Hulle sluit by die Titans aan.

Die Dolphins se Okuhle Cele en Sibonelo Makhanya verruil Durban vir Pretoria. Hulle sal voortaan vir die Titans beskikbaar wees.

Die Titans se Tony de Zorzi skuif na Kaapstad om vir die Cobras te speel.

Hy en Matthew Kleinveldt beweeg in teenoorgestelde rigtings.

Die Cobras verloor ook die dienste van die veelsydige Ferisco Adams. Dié verhuis na Bloemfontein en speel van volgende seisoen vir die Knights.

Keegan Petersen het die laaste paar seisoene goed gevaar by die Knights, maar hy skuif na Durban om vir die Dolphins te speel.

Dié Paarliet was vanjaar baie na aan die toetsspan van die Proteas. Hy sal hoop om in Durban die lopies van sy kolf af te laat vloei.

Die Lions se veelsydige Wihan Lubbe trek na Port Elizabeth. Hy gaan vir die Warriors speel.

Dis interessant dat net De Zorzi se naam met die Cobras verbind word, terwyl Williams, Ntini, Kleinveldt, Adams en Bokako reeds aangedui het hulle gaan Nuweland verlaat.

Die belowende David Bedingham speel nou vir die Engelse graafskap Durham.

Vernon Philander is by Somerset, terwyl die ervare Rory Kleinveldt sy boulskoene weggepak het.

Herbou

Die Cobras het dus heelwat stukrag en ervaring verloor. Hulle sal moet herbou.

Intussen het Krieket Suid-Afrika aangekondig die Lions­ en die Dolphins is onderskeidelik die meerdag- en eendagkampioen van die plaaslike reekse.

Dít kom nadat die dode­like corona-virus ’n einde gemaak het aan die plaaslike seisoen.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters