2 maande gelede
Kragspel spat
sukses: Maties het laas jaar hulle vierde Varsity Cup-titel gewen.Foto: gallo images  ~ 

DIE Varsity Cup se besluitnemers het uiteindelik tot hulle sinne gekom – dit is koebaai met powerplays.

Son het gister by navraag gehoor een van die mees omstrede reëls in ’n baie gewilde rugbykompetisie word nie die jaar toegepas nie.

Luidens dié omstrede reëls­, wat verskeie afrigters warm onder die kraag gehad het, moes spanne iewers in ’n wedstryd kies om twee spelers van die opposisie se span van die veld te stuur.

Sou die span met minder spelers op die veld ’n drie gaan druk, tel dié drie dubbel die punte.

Verskeie van die breiers het egter verkies om dié reël nie as deel van hulle wedstrydplan te gebruik nie.

Die afrigter van die Maties, Hawies Fourie, het self verlede jaar op pad na die titel kwaai mond uitgespoel oor die reël.

Fourie het destyds die kragspel as “nie sinvol nie” beskryf.

Hy sal dus baie tevrede wees met die feit dat die kompetisie se besluitnemers tot hulle sinne gekom het.

Daar is egter ’n paar van die Varsity Cup se reëls wat steeds behou word. Een daarvan is die wit kaart, wat deur spanne gebruik kan word om ’n beslissing deur middel van die TV-skeidsregter om te keer.

Die wit kaart word egter net in die halfeindstryde en eindstryd gebruik, want nie al die Varsity Cup-wedstryde sal regstreeks op SuperSport uitgesaai word nie.

Die kompetisie het ook die drie wat sewe punte tel, behou.

’n Drie sal slegs sewe punte tel as die aanvallende span se aanval van binne sy eie halfgebied begin het.

Drieë van binne die opposisie se helfte sal die gebruiklike vyf punte tel.

Die Varsity Cup skop op 4 Februarie af.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters