11 dae gelede
Kopkrap vir Ole en Red Devils
Ole Gunnar Solskjaer  ~ Getty Images

DIS nog vroeg in die seisoen, maar ’n wen in môre se Engelse Premierliga-wedstryd teen Newcastle United is vir Manchester United van kardinale belang.

Dis omdat die Red Devils se manager, Ole Gunnar Solskjær, se uurglas vinnig uitloop ná sy span se swakste begin tot nog toe in ’n seisoen.

United het reeds twee wedstryde verloor en spog met een sege. Dit gons boonop behoorlik dat Tottenham Hotspur se voormalige manager, Mauricio Pochettino, getip word om Solskjær op te volg.

Uitdagende

Dis juis waarom die maksimum punte teen die Magpies van kardinale belang is wanneer die spanne môre­ op St. James’ Park kragte meet.

Daar wag ’n uitdagende twee en ’n half weke op Solskjær en sy troepe. Dis omdat hulle die Franse kampioenspan Paris Saint-Germain in die Champions League pak, gevolg deur ’n ligawedstryd teen Chelsea.

Nog twee uitdagende wedstryde wag hierna teen RB Leipzig (Champions League­) en Arsenal (EPL).

Solskjær se kopsorge vir die stryd teen Newcastle is ietwat makliker gemaak met Eric Bailly wat in ’n internasionale wedstryd vir die Ivoorkus ’n besering opgedoen het.

Dit beteken dat Victor Lindelöf weer met Harry Maguire in die verdediging afgepaar kan word.

Dan is daar ook die nuweling Alex Telles wat sy debuut op left-back kan maak.

Skorsing

Dis egter op die aanval en die doelefront waar Solskjær sal moet kopkrap en waar hy slaankrag kort.

Anthony Martial dien ’n skorsing uit vir sy rooi kaart teen Spurs twee weke ge­lede, terwyl die nuweling Edinson Cavani nog in afsondering is weens Covid-19-regulasies.

Die speler van Uruguay het sy isolasie-periode van 14 dae op 4 Oktober begin en sal nie betyds beskikbaar wees nie.

Daar rus nou ’n groter verantwoordelikheid op die skouers van spelers soos Bruno Fernandes, Mason Greenwood en Marcus Rashford om Newcastle te stuit.

Nederland se Donny van de Beek kan straks sy eerste volle wedstryd vir United speel. – Sportredaksie

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters