13 dae gelede
‘Koolore’ was reuse
Matt Proudfoot  ~ Gallo Images

DIE vet boys, koolore, enjinkamer, noem hulle wat jy wil. Die Springbokke se pak voorspelers was fenomenaal in die World Cup.

Matt Proudfoot, die Bokke se voorspeler-afrigter, is een van die onbesonge helde van die seëvierende Bokke.

Op loskopstut was Beast Mtawarira en Steven Kitshoff reuse en hulle is baie goed deur Rassie Erasmus en kie bestuur.

Bongi Mbonambi was vanjaar só goed, hy het Malcolm Marx, wyd gereken as die beste haker in die wêreld, uit die beginspan gelig.

Marx het tog sy waarde getoon deur ’n verskil te maak elke keer as hy op die veld gekom het, terwyl Mbonambi heelwat verbeter het.

Dié twee, tesame met Proudfoot en die lynstaan-springers, kan uiters trots voel op die 68 uit 69 lynstane wat hulle in die toernooi gewen het.

Suid-Afrika is geseënd om vier slotte van die kaliber van Eben Etzebeth, Lood de Jager, Franco Mostert en RG Snyman te het.

Etzebeth was weens die Langebaan-herrie waarskynlik nie op sy allerbeste geestelik nie, maar hel, ’n 50%-Eben vat jy saam jou army toe!

De Jager het gewys dat hy ’n man vir die big stage is nadat hy in 2015 ook een van SA se beste spelers in die WB was.

Franco Mostert het as werk-esel nie sy gelyke nie, terwyl RG Snyman soos ’n senter kan hardloop en sy vermoë om in die tackle te kan offload, ongehoord is vir ’n vaste voorspeler.

Siya Kolisi het beter gespeel met elke wedstryd nadat hy net voor die WB van ’n besering herstel het. Dít terwyl sy leiding nog baie boeke gaan verkoop.

Pieter-Steph du Toit was ’n groot yster en verdien beslis die titel van World Rugby se speler van die jaar.

Duane Vermeulen se teenwoordigheid in die span is baie belangrik; hy het ’n fisieke teenwoordigheid en sy vermoëns as baldraer en by die afbreekpunte is goud.

Francois Louw het deurgaans impak kom maak in die laaste kwart van die wedstryde en sy turnover laat in die Wallis-toets was ’n wedstrydwenner.

Trevor Nyakane, Schalk Britz, Thomas du Toit en Kwagga Smith het dalk nie baie speelkans gekry nie, maar hulle moet ook groot krediet kry vir die Bokke se verowering van die gesogte Webb Ellis-trofee.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters