Verlede jaar
Kolbe bly droom van Olympics
Cheslin Kolbe  ~ Gallo Images

AL HET sy Franse rugbyklub klaar nee gesê, brand Cheslin Kolbe om dié jaar vir die Blitsbokke op die Olimpiese Spele te gaan speel.

Kolbe was in 2016 lid van die Blitsbok-span wat ’n bronsmedalje in sewesrugby se Olimpiese debuut in Rio de Janeiro, Brasilië, gewen het.

Dié jaar se Olimpiese Spele word beslis in Tokio, Japan. Dis die einste land en stad waar Kolbe die Springbokke gehelp het om die World Cup te wen – en boonop ’n drie in die final gedruk het.

Vir Kolbe om deel van die Blitsbokke se planne vir Tokio te wees, moet hy egter beskikbaar wees om in ten minste twee toernooie vir Neil Powell (afrigter) uit te draf.

Gesprek

Maar Toulouse, die klub waarvoor Kolbe speel, het die buksie en SA Rugby se versoek om hom vir twee toernooie vry te stel, afgekeur.

Kolbe gaan dit egter nie so aanvaar nie. Hy het reeds aangedui dat hy in gesprek is saam met SA Rugby om in Julie en Augustus vir die Blitsbokke uit te draf.

“Ek is in gesprek met SA Rugby, maar daar moet besluit word of ek gaan of bly. Ons wag nog om te hoor,” het Kolbe aan AFP gesê.

“Om op ’n groot verhoog soos die Olimpiese Spele vir jou land te speel is groot. As ek kan gaan, sal dit ’n seëning wees.”

Powell wou graag vir Kolbe vir die sewes se volgende twee toernooie in die Wêreldreeks inspan.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters