3 maande gelede
Kohli wys ander kant
Steve SmithFoto: Reuters  ~ 

INDIË se kaptein, Virat Kohli, doen dikwels die onverwagte op ’n krieketveld.

Kohli is byna oordrewe mededingend en doen die onverwagte dinge gewoonlik met sy spel, maar Sondag het hy verras deur letterlik ’n hand van vriendskap na die “vyand” uit te reik.

Hy het Steve Smith, die omstrede voormalige Australiese kaptein, teen die uitjouery van ’n groot deel van die skare beskerm.

Kohli voel dit is “onaanvaarbaar” dat Smith by elke game in die Wêreldbeker-toernooi in Engeland en Wallis uitgejou word.

Die Indiese ikoon het in die wedstryd tussen Indië en Australië op The Oval in Londen gevra die uitjouery moet gestaak word.

Skud

Smith is onlangs weer toegelaat om vir Australië te speel nadat hy weens balpeutery geskors is.

Dele van die skare het hom tot dusver in elke wedstryd van die Aussies in die toernooi uitgejou.

’n Groot deel van die skare, hoofsaaklik ondersteuners van Indië, het Smith weer ’n harde tyd gegee toe Kohli gekolf het.

Kohli het toe aan hulle beduie om Indië eerder te ondersteun en Smith uit te los. Smith het die gebaar waardeer en Kohli se hand gaan skud.

“Ek wil nie hê Indië se ondersteuners moet by die uitjouery betrokke wees nie,” het Kohli ná die wedstryd sy optrede aan die media verduidelik. “Hulle moet ’n voorbeeld aan die ander toeskouers stel.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters