Verlede maand
Klubs kan dán oefen
Aksie: Klubs kan weer begin slyp. Foto: Gallo Images  ~ 

SLEGS rugbyklubs in besit van nakomingsertifikate wat deur die Westelike Provinsie Rugbyunie uitgereik is, sal toegelaat word om weer te begin oefen.

Volgens Faizel Felton, die WP-bestuurder van klubrugby, is dit een van die vereistes wat nagekom moet word voordat spelers dié week met slypsessies sonder kontak by hul klubs kan begin.

Felton het gister aan Son gesê elke klub moet ’n nakomingsbeampte hê om te verseker hulle voldoen aan al die streng Covid-19-riglyne en -vereistes.

Hy sê: “Tans is daar altesaam 103 klubs in die WP. Sowat 40 klubs het reeds hul sertifikate van die WP Rugbyunie ontvang, so hulle sal met oefening kan begin.

“Die WP Rugbyunie en die Stad Kaapstad het reeds werkswinkels met die klubs hieroor gehou en beplan om weer met die klubs te vergader om hulle op hoogte van sake te hou. Dit is ook belangrik vir klubs om saam met die Stad Kaapstad te werk om te verseker dat hul fasiliteite gereed is.”

Hy benadruk dat die WP ’n gefaseerde benadering gaan toepas. Die doelwit is om die spel weer aan die gang te kry afhangend van die situasie rondom die pandemie.

’n Moontlike derde vlaag van die virus kan hul planne dalk nog in die wiele ry.

“Die plan is dat klubs van nou af vir vier weke in klein groepies van vyf met kondisionering-sessies begin werk waar daar geen kontak met mekaar gemaak kan word nie.

Motiveer

“Daarna sal klubs vanaf die tweede week in Maart die tweede fase aandurf waar hulle in hul sessies met die bal sal kan werk. Die normale seisoen skop gewoonlik in die eerste week in April af.”

Felton meen die groot uit­daging gaan wees om die spelers te motiveer om op te daag vir oefensessies by hul klubs.

“Hulle weet nog nie wanneer hulle sal kan speel nie omdat dinge enige tyd kan verander.

“Ons almal probeer maar soveel moontlik leer soos wat ons aangaan.”

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters